T20I-wêreldbeker 2014
2014 IKR Wêreld Twintig20 / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die T20I-wêreldbeker 2014 (Engels: 2014 ICC World Twenty20) is van 16 Maart tot 6 April 2014 in Bangladesj beslis. Dit was die vyfde T20I-wêreldbeker in T20I-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is. Destyds is dié toernooi Wêreldtwintig20 2014 genoem, maar sedert die 2021-toernooi staan dit as T20I-wêreldbeker bekend.[3] Die manstoernooi is gelyktydig met die vrouetoernooi gehou en beide die halfeindrondte en die eindstryde van albei toernooie is op dieselfde dag op dieselfde stadions gespeel. Ná die T20I-wêreldbeker 2012 in Sri Lanka was dit die tweede agtereenvolgende T20I-wêreldbekertoernooi in ’n Asiatiese land.
Kenteken van die T20I-wêreldbeker 2014 | |
Datums | 16 Maart – 6 April |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Twintig20 (T20I) |
Toernooiformaat | Eerste rondte, Super Tien en uitklopfase |
Gashere | Bangladesj |
Kampioen | Sri Lanka (1ste titel) |
Naaswenner | Indië |
Deelnemers | 16 (26 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 35 |
Speler van die reeks | Virat Kohli |
Meeste lopies | Virat Kohli (319)[1] |
Meeste paaltjies | Ahsan Malik Imran Tahir (12 elk)[2] |
← 2012 2016 → |
Die T20I-wêreldbeker 2014 was die eerste toernooi met 16 deelnemende nasionale krieketspanne, teenoor die twaalf van die eerste vier T20I-wêreldbekertoernooie. Die 16 deelnemende nasionale krieketspanne was: Die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe), saam met die wenners van die kwalifisering (Afghanistan, Hongkong, Ierland, Nederland, Nepal en die Verenigde Arabiese Emirate). Tydens die T20I-wêreldbeker 2014 is 35 wedstryde gespeel, waaronder twaalf in die eerste rondte, 20 in die Super Tien en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die beste spanne op die IKR se T20I-ranglys soos op 8 Oktober 2012 het aan die Super Tien deelgeneem, terwyl die laer geplaasde spanne saam met die kwalifiserende spanne in die eerste rondte gespeel het. Die agt spanne wat aan die eerste rondte deelgeneem het, is in twee groepe van vier spanne elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die beste span van elke groep het hierna vir die Super Tien gekwalifiseer. In die Super Tien is die spanne in twee groepe van vyf spanne elk verdeel, waarvan die twee beste spanne tot die halfeindrondte gevorder en die wenners van hierdie wedstryde in die eindstryd ontmoet het.
Indië, Sri Lanka, Suid-Afrika en Wes-Indië het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Indië het Suid-Afrika en Sri Lanka het die verdedigende wêreldkampioen Wes-Indië geklop, waardeur die twee Suid-Asiatiese spanne Indië en Sri Lanka in die eindstryd ontmoet het. Sri Lanka het Indië in die eindstryd op die Sher-e-Bangla Nasionale Krieketstadion in Dhaka met ses paaltjies verslaan en sodoende sy eerste T20I-wêreldbekertitel ingepalm. Saam met hul oorwinning tydens die Krieketwêreldbeker 1996 en die gedeelde titel met Indië tydens die Kampioenetrofee 2002 was dit Sri Lanka se derde internasionale kriekettitel. Die gasheer Bangladesj is in die Super Tien uitgeskakel.