T20I-wêreldbeker 2012
IKR Wêreld Twintig20 / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die T20I-wêreldbeker 2012 (Engels: 2012 ICC World Twenty20) is van 18 September tot 7 Oktober 2012 in Sri Lanka beslis. Dit was die vierde T20I-wêreldbeker in T20I-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is. Destyds is dié toernooi Wêreldtwintig20 2012 genoem, maar sedert die 2021-toernooi staan dit as T20I-wêreldbeker bekend.[3] Die manstoernooi is gelyktydig met die vrouetoernooi gehou en beide die halfeindrondte en die eindstryde van albei toernooie is op dieselfde dag op dieselfde stadions gespeel. Dit was die eerste T20I-wêreldbekertoernooi wat in ’n Asiatiese land aangebied is.
Kenteken van die T20I-wêreldbeker 2012 | |
Datums | 18 September – 7 Oktober |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Twintig20 (T20I) |
Toernooiformaat | Eerste rondte, Super Agt en uitklopfase |
Gashere | Sri Lanka |
Kampioen | Wes-Indië (1ste titel) |
Naaswenner | Sri Lanka |
Deelnemers | 12 (26 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 27 |
Speler van die reeks | Shane Watson |
Meeste lopies | Shane Watson (249)[1] |
Meeste paaltjies | Ajantha Mendis (15)[2] |
← 2010 2014 → |
Die toernooi se formaat van 2007, 2009 en 2010 het onveranderd gebly en twaalf nasionale krieketspanne het aan die T20I-wêreldbeker 2012 deelgeneem: Die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe), saam met die wenners van die kwalifisering (Afghanistan en Ierland). Tydens die T20I-wêreldbeker 2012 is 27 wedstryde gespeel, waaronder twaalf in die eerste rondte, twaalf in die Super Agt en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van drie spanne elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die Super Agt gekwalifiseer. In die Super Agt is die spanne in twee groepe van vier spanne elk verdeel, waarvan die twee beste spanne tot die halfeindrondte gevorder en die wenners van hierdie wedstryde in die eindstryd ontmoet het.
Australië, Pakistan, Sri Lanka en Wes-Indië het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Sri Lanka het Pakistan en Wes-Indië het Australië geklop, waardeur die gasheer Sri Lanka en Wes-Indië in die eindstryd ontmoet het. Wes-Indië het Sri Lanka in die eindstryd op die R. Premadasa-stadion in Colombo met 36 lopies verslaan en sodoende sy eerste internasionale kriekettitel sedert die Kampioenetrofee 2004 ingepalm. Die verdedigende wêreldkampioen Engeland en Suid-Afrika is in die Super Agt uitgeskakel.