Seldsame Aarde-hipotese
Teorie dat die ontstaan van komplekse en meersellige (en dus intelligente) lewe op Aarde ’n onwaarskynlike kombinasie van astrofisiese en geologiese gebeure en omstandighede geverg het. / From Wikipedia, the free encyclopedia
In sterrekunde en astrobiologie is die Seldsame Aarde-hipotese die teorie dat die ontstaan van komplekse en meersellige (en dus intelligente) lewe op Aarde ’n onwaarskynlike kombinasie van astrofisiese en geologiese gebeure en omstandighede geverg het. Volgens die hipotese is komplekse buiteaardse lewe ’n baie onwaarskynlike verskynsel en sal dit uiters skaars wees as dit bestaan. Die term "Seldsame Aarde" kom van die boek Rare Earth: Why Complex Life Is Uncommon in the Universe (2000) deur die paleontoloog en geoloog Peter Ward en die sterrekundige en astrobioloog Donald E. Brownlee, albei van die Universiteit van Washington.
’n Alternatiewe standpunt is dié van onder andere Carl Sagan en Frank Drake. Daarvolgens is die Aarde ’n tipiese aardplaneet in ’n tipiese planeetstelsel, wat in ’n gewone streek van ’n gewone spiraalsterrestelsel voorkom. Na aanleiding van die Koperniese beginsel en die beginsel van middelmatigheid is dit moontlik dat die heelal wemel van komplekse lewe.
Op 4 November 2013 het sterrekundiges aangekondig daar kan tot 40 miljard aardgrootte-eksoplanete in die bewoonbare sones van sonagtige sterre of rooidwerge in die Melkweg voorkom, gebaseer op data van die Kepler-ruimteteleskoop.[1][2] Van hulle kan 11 miljard om sonagtige sterre voorkom.[3] Die naaste sodanige planeet kan volgens die wetenskaplikes 12 ligjare van die Aarde af wees.[1][2]
Die hipotese dat lewe in die heelal skaars is, verduidelik egter die Fermi-paradoks – hoekom geen lewe nog gevind is as dit so volop is nie.[4]