Anomodontia
From Wikipedia, the free encyclopedia
Anomodontia, of die anomodonte, is ’n uitgestorwe groep terapsides wat nie soogdiere was nie. Dit het baie spesies bevat en van die Perm- tot die Triasperiode voorgekom, en moontlik tot in die vroeë Kryt.[2] Die meeste het nie tande gehad nie en was moontlik endotermiese[3][4][5] ("warmbloedige") plantvreters.[6]
Anomodontia | |
---|---|
Die skedel van ’n Lystrosaurus. | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Suborde: | Anomodontia Owen, 1859 |
Anomodonte was in die middel-Perm baie uiteenlopend en het primitiewe genera ingesluit, soos Anomocephalus en Patranomodon, asook groepe soos Venyukovioidea, Dromasauria en Dicynodontia. Van hulle het net die disinodonte tot later as die middel van die Perm oorleef. Disinodonte was die suksesvolste en volopste plantvreters in die laat Perm en Trias en het ook voorgekom in wat vandag Suid-Afrika is. Hulle het gewissel van groot blaarvreters tot klein gatgrawers. Min disinodontefamilies het die Perm-Trias-uitwissing oorleef, maar een linie het tot groot, stewige vorme ontwikkel wat tot in die laat Trias oorheersende plantvreters op land gebly het. Daarna het veranderende toestande meegebring dat hulle getalle afneem.