Zoë van Bisantium
From Wikipedia, the free encyclopedia
Zoë Porphyrogenita (Grieks: Ζωή, "lewe", Πορφυρογέννητη, "in die pers gebore"; omstreeks 978 – Junie 1050) was van 10 April 1042 tot in Junie 1050 saam met haar suster Theodora keiserin van die Bisantynse Ryk. Sy was ook tussen 1028 en 1042 saam met verskeie mans medeheerser.
Zoë Porphyrogenita | |
---|---|
Keiserin van die Bisantynse Ryk | |
’n Mosaïek van Zoë in die Hagia Sofia. | |
Bewind | 10 April 1042 – Junie 1050 |
Dinastie | Masedoniese |
Gebore | Omstreeks 978 Konstantinopel |
Oorlede | Junie 1050 (op 72) Konstantinopel |
Voorganger | Michael V Kalaphates |
Opvolger | Konstantyn IX en Theodora |
Gades | Romanos III (1028-1034) Michael IV (1034-1041) Konstantyn IX (1042-1050) |
Vader | Konstantyn VIII |
Zoë was die dogter van Konstantyn VIII, maar het tot op 47 ’n afgesonderde lewe gelei. Haar oom, die medekeiser Basilius II, is toe dood en haar pa het die alleenheerser geword. Omdat Konstantyn geen seuns gehad het nie, wou hy die dinastie voortsit deur ’n geskikte man vir een van sy dogters te vind.
Zoë is op 50 getroud met die 60-jarige Romanos III Argyros, wat drie dae later keiser geword het toe haar pa sterf. Die huwelik was nie gelukkig nie en ná vyf jaar is Romanos dood in sy bad aangetref. Zoë of haar jong minnaar is verdink. Hulle is op dieselfde dag as die moord getroud en hy is die volgende dag as keiser Michael IV gekroon.[1]
Sewe jaar later is Zoë oorreed om haar sterwende man se susterskind, ook Michael, aan te neem. Kort nadat Michael V keiser geword het, het hy Zoë verban. Dit het ’n opstand veroorsaak wat tot sy val gelei en Zoë en haar suster Theodora saam op die troon geplaas het. Ná twee maande is Zoë met ’n voormalige minnaar getroud en is hy as Konstantyn IX Monomachos as keiser gekroon. Zoë is agt jaar later op 72 oorlede.