Mosaïek
From Wikipedia, the free encyclopedia
Mosaïek is 'n kunsvorm waar 'n groot beeld of patrone gevorm word deur gebruik te maak van 'n groot aantal klein gekleurde klippies, teëltjies, gekleurde glas of ander materiale. Mosaïek word hoofsaaklik vir binnenshuise versiering en dekor gebruik.
Met mosaïekkuns word bedoel die maak van 'n patroon of afbeelding deur klein stukkies gekleurde glas, steentjies of 'n ander geskikte materiaal in 'n grondlaag van sement saam te voeg. Mosaïeke is veral tydens die Romeinse tyd en Vroeg-Christelike periode gebruik vir die versiering van vloere, mure (sowel binne as buite 'n gebou) en plafonne. Die beginsel van die mosaïekkuns is eenvoudig: figure word met gekleurde stukkies materiaal in ʼn bedding van sement vasgelê.
Eers word 'n dik, growwe laag sement aangebring, en daarna volg 'n fyn, verhardingslaag waarin die steentjies gelê word. In die 1e eeu v.C. is 'n nuwe, duursame en waterdigte sement in Italië uitgevind, wat cocciopesto genoem is.
Dit het bestaan uit vulkaniese sand (pozzolaan) uit Suid-Italië, wat met marmergruis of kalk vermeng is. Hierin word vierkantige marmer- of steenblokkies (tesserae) gedruk sodat dit dig teen mekaar lê en ʼn patroon (die opus tesselatum) ontstaan. Hierdie mosaïekvorm was in die Romeinse tyd besonder gewild en word vandag nog. toegepas. Wanneer die vierkantjies baie klein is, sodat byna skilderagtige effekte verkry word, noem ʼn mens dit opus vermiculatum.
Hierdie tegniek is meestal in ateljees toegepas. Om steeds groter kleurmoontlikhede te verkry, is daar nie net marmer nie, maar ook kosbare stene soos lasuursteen, albaster, malagiet, oniks, ensovoorts gebruik. Verder is daar ook gebruik gemaak van glas wat by 'n hoë temperatuur met metaaloksiede gekleur is. Die mosaïek is daarna met sandsteen of tinoksiede gepoleer. Hierdie 2 tegnieke is net in vloermosaïeke toegepas en is dikwels met mekaar gekombineer (byvoorbeeld 'n rand van tesselatum rondom 'n voorstelling in vermiculatum). Wanneer steen plate wat volgens grootte gesny is, styf teen mekaar gepak word, praat 'n mens van opus sectile.
By muurmosaïeke, opus musivum, is daar soos volg te werk gegaan: Eers is die muur waarop die mosaïek aangebring sou word, so grof moontlik gemaak. Die eerste laag sement, wat bestaan het uit ʼn samestelling van sand, puin en dies meer, kon dus beter aan die growwe oppervlak vassit. Daarop is ʼn tweede, ietwat fyner, laag aangebring en laastens 'n derde laag, waarin die mosaïek gelê is. By ʼn muurmosaïek kon daar uiteraard meer van glas gebruik gemaak word as by 'n vloermosaïek.
Dit het die moontlikheid van meer kleure, kleurskakerings en skilderagtige effekte geskep. In groot mosaïeke, byvoorbeeld in die Aya Sofia in Istanbul of die San Marco-plein in Venesië, kan op die tweede laag 'n growwe onderskildering gesien word en op die boonste laag 'n meer gedetailleerde skets. Die derde laag is altyd in klein deeltjies aangebring, presies so veel as wat die kunstenaar op een dag met mosaïek kon vermag. Die vooraf uitgewerkte, gekleurde onderskildering volgens freskotegniek het die voordeel gehad dat dit die kleureffek van die daaropliggende tesserae versterk het.
So is daar byvoorbeeld altyd met rooi geskilder op die plek waar goudkleurige tesserae moes kom. Muurmosaïeke, veral die uit die Bisantynse era, se oppervlakke was nooit heeltemal glad nie. Deur die ietwat ongelyke oppervlakke is ʼn ongekende ryk en afwisselende inval van lig in die tesserae bewerkstellig. Hierdie lewendige effek is byvoorbeeld duidelik in die St. Clemente in Rome te sien.