Transgender
From Wikipedia, the free encyclopedia
Transgender mense is persone met ’n gender-identifikasie wat verskil van die geslag wat by geboorte aan hulle toegewys is.[1][2][3] Hulle word soms transseksueel genoem. Eersgenoemde is ’n sambreelterm wat ook mense insluit wat nie uitsluitlik manlik of vroulik is nie (insluitende bigender, pangender, genderfluid, agender of niebinêr).[2][4][5]
Om transgender te wees het niks te doen met seksuele oriëntasie nie:[6] Transgenders kan heteroseksueel, homoseksueel, biseksueel of selfs aseksueel wees, of weier om hul oriëntasie te eien. Dit is ook iets anders as om interseksueel te wees. Laasgenoemde verwys na mense met fisieke geslagseienskappe wat nie voldoen aan "tipiese idees oor die manlike en vroulike liggaam" nie.[7]
Die teenoorgestelde van transgender is cisgender, iemand wie se gender-identifikasie ooreenstem met sy of haar biologiese geslag.[8]
Die mate waarin mense gemaklik, eg en geloofwaardig voel oor hul eksterne voorkoms en hul ware identiteit aanvaar, word soms "transgenderooreenstemming" genoem.[9] Baie transgenders ondervind genderdisforie en sommige ondergaan mediese prosedures soos hormoonvervangingsterapie, geslagsveranderingsoperasies of psigoterapie.[10] Nie alle transgenders wil egter sulke behandelings ondergaan nie, of hulle kan nie om finansiële of gesondheidsredes.[10][11]
Die meeste transgender mense ondervind diskriminasie by die werk[12] of met openbare akkommodasie[13] en gesondheidsorg.[14] Op baie plekke word hulle nie wetlik teen diskriminasie beskerm nie.[15]