Taalstryd van Ragusa
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die taalstryd van Ragusa het hom uitgewoed onder die onderskeie tale van weleer wat in die Republiek Ragusa gepraat is, veral wat spreektaal betref. Hierdie taalturksvy het veral vanaf die middel van die 19de tot in die middel van die 20ste eeu groot belangstelling gewek, toe die "Kroatiese Herlewing (Risorgimento)" (hrvatski narodni preporod) toenemend druk begin uitoefen het vir taalregte en identiteit - in stryd met die Italiaanse "Irredentismo" (wat Italiaans op al die Italiaanssprekende gebiede ten sterkste wou uitbrei). Daar was 'n oor en weer getwis wie nou eintlik die nasionale karakter van die Republiek Ragusa behoort te weerspieël: moet dit eksklusief Slawies (Kroaties) wees, of eksklusief Italiaans? Van die eerste navorsing was betreklik eensydig geskryf, met bronne wat opsetlik weggelaat of verdraai is indien dit nie die eie ideologie sou pas nie. Van weerskante was die uitsluitlike doel voor oë om enige spoor van hetsy die Romaanse (Latyn, Italiaans, Regusa-dialek), hetsy die Slawiese tale uit te vee. Die afgelope dekades het die vraag weereens opgeduik op die wetenskaplike en kultuurgebied, maar hierdie keer word die polemiek terugskouend op 'n neutrale en wetenskaplike manier in 'n aangename atmosfeer aangepak. Die Kroatiese taalkundiges benadruk - met betrekking tot Ragusa - die uitruilbaarheid van die uitdrukkings "Slawiese taal" en "Kroatiese taal".
Uit die bronne blyk daar 'n duidelike taalverskuiwing op straat wat in Ragusa oor die jare heen plaasvind: nog in die vyftiende eeu is dit niks snaaks om die Latynse of oorheersende Neoromaanse taal die botoon te laat voer nie, maar omstreeks 1500 is bordjies verhang toe die Slawiese tongval die Romaanse tale op straat heeltemal begin verdring, en uiteindelik die "natuurlike taal" van die plek inneem. Eers Latyn en toe later Italiaans kon hom egter vir eeue lank nog handhaaf, omdat hulle albei die tale was wat die hoëfunksies beklee, naamlik: die sosiale opgang, kultuur, wetenskap, handel en mag. Juis daarom is Italiaans (en Latyn) meer onder die mans van die heersende klasse gebesig as onder die vroue en die gewone volk.
'n Mens kan die oorheersende skryftaal van die inwoners van Ragusa soos volg kategoriseer:
- Amptelike openbare regstaal: Latyn (en Italiaans)
- Diplomatieke korrespondensie: Latyn (en Italiaans)
- Wetenskaplike/filosofiese werke: Latyn (en Italiaans)
- Digkuns en letterkundige werke: Slawies (asook Latyn en Italiaans)
- Persoonlike briefwisseling: Italiaans (asook Slawies en Latyn)
Hierdie indeling kan toegeskryf word aan die geografiese ligging van Ragusa, asook die taalgebruiklikheid van die onderskeie genres wat oor die Republiek versprei het: Latyn was eeuelank die kultuurtaal van Europa, en so is Italiaans ook as "klassieke taal" geag. Bowendien was die taalkeuse, hetsy Latyn, hetsy Italiaans, hetsy Slawies, heel logies gegrond op die "eindbestemming van die produk".[1].