T20I-wêreldbeker 2022
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die T20I-wêreldbeker 2022 (Engels: 2022 ICC Men's T20 World Cup) is van 16 Oktober tot 13 November 2022 in Australië beslis.[3] Dit was die agtste T20I-wêreldbeker in T20I-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is en die eerste in Australië.[4] Oorspronklik sou dié toernooi in 2020 plaasvind, maar weens die wêreldwye Covid-19-pandemie is dit deur die Internasionale Krieketraad uitgestel.[5] In Augustus 2020 het die IKR aangekondig dat Australië die 2022-toernooi sou aanbied,[6] terwyl die 2021-toernooi soos oorspronklik beplan in Indië sou plaasvind,[7] maar dit is later aan Oman en die Verenigde Arabiese Emirate oorhandig.[8] Die gasheer Australië was ook die verdedigende wêreldkampioen.[9] Sedert die 2010-toernooi in Wes-Indië was dit die eerste T20I-wêreldbekertoernooi wat nie in ’n Asiatiese land gehou is nie.
Kenteken van die T20I-wêreldbeker 2022 | |
Datums | 16 Oktober – 13 November |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Twintig20 (T20I) |
Toernooiformaat | Eerste rondte, Super Twaalf en uitklopfase |
Gashere | Australië |
Kampioen | Engeland (2de titel) |
Naaswenner | Pakistan |
Deelnemers | 16 (76 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 45 |
Bywoning | 1 000 336 (22 230 per wedstryd) |
Speler van die reeks | Sam Curran |
Meeste lopies | Virat Kohli (296)[1] |
Meeste paaltjies | Wanindu Hasaranga (15)[2] |
← 2021 2024 → |
Die toernooi se formaat van 2021 het onveranderd gebly en 16 nasionale krieketspanne het aan die T20I-wêreldbeker 2022 deelgeneem: Die twaalf beste spanne van die vorige toernooi (Afghanistan, Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Namibië, Nieu-Seeland, Pakistan, Skotland, Sri Lanka, Suid-Afrika en Wes-Indië), saam met die wenners van die kwalifisering (Ierland, Nederland, die Verenigde Arabiese Emirate en Zimbabwe). Tydens die T20I-wêreldbeker 2022 is 45 wedstryde gespeel, waaronder twaalf in die eerste rondte, 30 in die Super Twaalf en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die agt beste spanne op die IKR se T20I-ranglys soos op 15 November 2021 het aan die Super Twaalf deelgeneem, terwyl die laer geplaasde spanne saam met die kwalifiserende spanne in die eerste rondte gespeel het. Die agt spanne wat aan die eerste rondte deelgeneem het, is in twee groepe van vier spanne elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die boonste twee spanne van elke groep het hierna vir die Super Twaalf gekwalifiseer. In die Super Twaalf is die spanne in twee groepe van ses spanne elk verdeel, waarvan die boonste twee spanne tot die halfeindrondte gevorder het en die wenners van hierdie wedstryde in die eindstryd ontmoet het.
Engeland, Indië, Nieu-Seeland en Pakistan het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Pakistan het Nieu-Seeland en Engeland het Indië geklop, waardeur Engeland en Pakistan in die eindstryd ontmoet het. Engeland het Pakistan in die eindstryd op die Melbourne-krieketveld in Melbourne met vyf paaltjies verslaan en sodoende ná 2010 sy tweede T20I-wêreldbekertitel ingepalm. Die gasheer en verdedigende wêreldkampioen Australië en Suid-Afrika is in die Super Twaalf uitgeskakel, terwyl die tweemalige wenner Wes-Indië nie die Super Twaalf kon haal nie.