Slawiërs
From Wikipedia, the free encyclopedia
Teks in onderskrif
Slawiërs | |
---|---|
Totale bevolking: | 350 miljoen |
Belangrike bevolkings in: | Rusland 134 miljoen Pole 60 miljoen |
Taal: | Slawiese tale |
Geloofsoortuiging: | Meerderheid: Oosters-Ortodokse Kerk Rooms-Katolieke Kerk Islam Minderheid: Protestantisme Neopaganisme Spirituele Christendom Ongebonde |
Verwante etniese groepe: | Balte |
Slawiërs of Slawe verwys na ’n groep volke wat ’n Slawiese taal praat en veral in Sentraal- en Oos-Europa woon. Die Slawiese tale vorm naas die Germaanse, Romaanse, Keltiese en Baltiese tale een van die hoofgroepe binne die Indo-Europese taalfamilie in Europa.
Lande met ’n oorwegend Slawiese bevolking is die Russiese Federasie, Oekraïne, Pole, Tsjeggië, Belarus, Slowakye, Slowenië, Kroasië, Serwië, Montenegro, Bulgarye, Noord-Masedonië en Bosnië-Herzegowina. Groot Slawiese minderhede word in Kasakstan, Moldowa en die drie Baltiese lande Litaue, Estland en Letland aangetref.
Die Slawiese taalgebied het in die Middeleeue in die weste tot in die huidige Duitsland gestrek; beduidende Slawiese minderhede in die Duitse taalgebied is die Sorbe, ’n klein Wes-Slawiese volk in die gewes Lausitz (deelstate Brandenburg en Sakse), asook Kroatiese, Slowaakse en Sloweense minderhede in Oostenryk.
Navorsers neem aan die Slawiërs het in die eeue v.C. nog oor ’n gemeenskaplike taal, Protoslawies, beskik. Hierdie taal, waarvan geen geskrifte oorgebly het nie, was nou verwant aan die 10de-eeuse Oudslawies en Ou Kerkslawies. Die huidige Slawiese tale word volgens geografiese en fonetiese beginsels in drie groepe verdeel: Oos-Slawies, Wes-Slawies en Suid-Slawies.