Sardynloop
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die sardynloop, ook genoem sardientjieloop, van Suider-Afrika vind gewoonlik jaarliks plaas vanaf Mei tot Julie wanneer miljarde sardientjies – of, meer spesifiek, die Suid-Afrikaanse sardyn (Sardinops sagax) – kuit skiet in die koel waters van die Agulhasbank en noordwaarts beweeg langs die ooskus van Suid-Afrika. Die groot getalle sardiens veroorsaak frenetiese vreetsessies onder roofvisse – en voëls langs die kuslyn.
Die loop, met miljoene individuele sardientjies, vind plaas wanneer 'n koue seestroom noordwaarts vloei van die Agulhasbank af in die rigting van Mosambiek, waar dit die kuslyn verlaat en verder ooswaarts beweeg in die Indiese Oseaan.
In terme van biomassa, word daar deur navorsers beraam dat die sardienloop kan meeding met Oos-Afrika se groot wildebeesmigrasie.[1] Daar is egter min bekend oor die sardienloop verskynsel. Dit word veronderstel dat die watertemperatuur onder 21 °C moet daal vir die migrasie om plaas te vind. In 2003 het die sardientjies vir die derde keer in 23 jaar nie geloop nie. Daarenteen het 2005 'n goeie lopie gehad, en in 2006 was die loop weer afwesig.[2]
Die sardynskole is dikwels meer as 7 km lank, 1.5 km breed en 30 meter diep en is duidelik sigbaar vanuit opsporingsvliegtuie of van die oppervlak.
Sardientjies groepeer saam wanneer hulle bedreig word. Hierdie instinktiewe gedrag is 'n verdedigingmeganisme aangesien individue makliker gevang en geëet word as groot groepe.