Sagrada Família
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Basílica de la Sagrada Família (Basilika van die Heilige Familie),[1] ook bekend as die Sagrada Família, is 'n groot, onvoltooide Rooms-Katolieke kerk in Barcelona, Katalonië, Spanje. Die kerk is deur die Spaanse/Katalaanse argitek Antoni Gaudí (1852-1926) ontwerp; sy werk aan die gebou is deel van 'n UNESCO-wêrelderfenisgebied.[2] Op 7 November 2010 het pous Benedictus XVI die kerk ingewy en dit as 'n mindere basilika verklaar.[3][4]
Bouwerk aan die Sagrada Família het op 19 Maart 1882, onder leiding van die argitek Francisco de Paula del Villar begin. In 1883, toe Villar bedank,[2] het Antoni Gaudí as hoofargitek oorgeneem. Hy het die projek met sy eiesoortige argitektoniese- en ingenieurstyl, met 'n kombinasie van Gotiese en gekurfde Art Nouveau-vorms, omskep. Gaudí het die res van sy lewe aan die projek gewy, en hy is in die kript van die gebou begrawe. Ten tyde van sy dood in 1926 was minder as 'n kwart van die projek voltooi.
Omdat die konstruksie van die Sagrada Família slegs van private skenkings afhanklik was, het dit stadig gevorder, en is dit boonop deur die Spaanse Burgeroorlog onderbreek. Tydens Julie 1936 het rewolusionêres die kript aan die brand gesteek en by die werkswinkel ingebreek, waar hulle Gaudí se oorspronklike planne, tekeninge en gipsmodelle gedeeltelik vernietig het. Dit het 16 jaar se werk geneem om die fragmente van die meestermodel weer aanmekaar te sit. Tydens die 1950's is konstruksie met onderbroke vordering hervat. Vooruitgang in tegnologie soos rekenaargesteunde ontwerp en gerekenariseerde numeriese beheer (CNC) het vordering sedertdien bespoedig; konstruksie het in 2010 die halfpadmerk verbygesteek. Van die grootste uitdagings van die projek lê egter nog voor, insluitend die bou van nog tien torings, wat elk 'n belangrike Bybelse figuur in die Nuwe Testament sal simboliseer. Na verwagting is dit moontlik dat die gebou teen 2026 voltooi sal wees; dit sal ook die eeufeesherdenking van Gaudí se dood wees.[5]
Die basilika het 'n lang geskiedenis van meningsverskille onder die inwoners van Barcelona: oor die aanvanklike moontlikheid dat dit met die Barcelona-katedraal sal kompeteer, oor Gaudí se ontwerp, oor die moontlikheid dat die bouwerk na Gaudí se dood sy ontwerp misken het, en die 2007-voorstel om 'n tonnel te bou wat Spanje se hoë-spoed treinstelsel met Frankryk verbind, en wat die stabiliteit van die basilika sou kon versteur. In 'n beskrywing van die Sagrada Família, het Rainer Zerbst, 'n kunskritikus, gesê "dit is waarskynlik onmoontlik om 'n kerkgebou, wat enigsins daarmee vergelyk, in die ganse kunsgeskiedenis te vind".[6] Paul Goldberger beskryf dit as "die mees buitengewone interpretasie van Gotiese argitektuur sedert die Middeleeue”. Die basilika is nie die katedraalkerk van die aartsbisdom van Barcelona nie, want dié titel behoort aan die Katedraal van die Heilige Kruis en Sint Eulalia (Barcelona-katedraal).