Russiese wet op gay propaganda
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Russiese federale wet vir die doel om kinders te beskerm teen inligting wat ’n ontkenning van tradisionele gesinswaardes verkondig, ook algemeen bekend as die gaypropagandawet, is ’n wet wat op 11 Junie 2013 eenparig deur die Staatsdoema goedgekeur is (met net een lid, Ilja Ponomaref, wat buite stemming gebly het),[1] en op 30 Junie 2013 deur president Wladimir Poetin onderteken is.[2]
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Volgens die Russiese regering is sy doel met die wet om kinders te beskerm teen blootstelling aan homonormatiwiteit – inhoud wat homoseksualiteit voorhou as ’n norm in die gemeenskap – met die argument dat dit in teenstelling is met tradisionele gesinswaardes. Die statuut het die land se kinderbeskermingswet en die kode oor administratiewe oortredings gewysig; dit maak die verspreiding van "propaganda vir nietradisionele seksuele verhoudings" onder minderjariges ’n oortreding strafbaar met boetes. Die definisie sluit in materiaal wat "’n belangstelling wek in" sulke verhoudings; veroorsaak dat minderjariges "nietradisionele seksontvanklikheid vorm"; of "idees voorstel oor die gelyke sosiale waarde van tradisionele en nietradisionele seksuele verhoudings". Ondernemings en organisasies kan ook gedwing word om hul bedrywighede tydelik te staak as hulle kragtens die wet aangekla word. Buitelanders kan óf vir tot 15 dae aangehou en verban óf met 5 000 roebels beboet en verban word.
Die Kremlin se steun aan die wet het die goedkeuring weggedra van die land se verregses, maar het later ook byval gevind by die algemene publiek. Die wet is veroordeel deur die Venesiese Kommissie van die Raad van Europa (waarvan Rusland lid is) en die Verenigde Nasies se Komitee vir Kinderregte, asook menseregtegroepe soos Amnestie Internasionaal. Dit is gekritiseer oor die breë en dubbelsinnige bewoording daarvan (insluitende die bogenoemde "’n belangstelling wek in" en "onder minderjariges"), omdat dit volgens teenstanders in effek ’n verbod is op die bevordering van die regte en kultuur van die LGBT-gemeenskap. Dit het ook die blaam gekry vir ’n toename in en regverdiging van geweld teen gays,[3] terwyl die implikasies daarvan in die lig van die toe naderende Olimpiese Winterspele in Sotsji ook kommer gewek het omdat die Olimpiese Handves verskeie vorme van diskriminasie verbied.