Presnenski (amptelik Пре́сненский райо́н Présnenskij rajón; in die omgangstaal dikwels kortweg Пре́сня Présnja genoem, afgelei van die gelyknamige rivier wat deur die buurt vloei), is een van die administratiewe distrikte van Moskou met 'n bevolking van 123284 volgens die sensus van 2010.
Presnenski is anderkant die Tuinring (Садовое колъцо) tussen die historiese stadsdeel Arbat en die nuwe wolkekrabberbuurtMoskwa-Siti (Moskwa-City) geleë. Met die bou van die Trjochgornaja-tekstielmanufaktuur in 1799 (die oudste in Moskou wat na drie heuwels in sy onmiddellike omgewing genoem is[3]) het Presnja, soos dit destyds genoem is, tot die Russiese hoofstad se nywerheidsbuurt begin groei. Gedurende die 19de eeu is steeds meer industriële aanlegte hier opgerig soos die Mamontof-kleurefabriek, die Danilof-suikerraffinadery en die Prochorof-manufaktuur.[4]
Danksy sy ligging in Sentraal-Moskou het Presnenski se karakter in die 20ste eeu ingrypend verander. Die oorspronklike nywerheids- en werkerskwartier is tans 'n gegoede woonbuurt met talle restaurante en 'n ryk kulturele en sosiale lewe. Die Moskouse planetarium en dieretuin is gewilde trekpleisters vir Moskowiete en toeriste. Ook enkele ambassades is in Presnenski geleë, waaronder dié van die Verenigde State; soms is statige historiese woongeboue van welvarendes omgebou om diplomatieke sendings te huisves.