Oenas (ook Unas, Unis of Wenis gespel, en volgens Manetho bekend onder die Hellenistiese naam Onnos) was die laaste Egiptiese farao van die 5de Dinastie van die Ou Ryk.[1] Daar word gereken hy het tussen 2375 en 2345 v.C. regeer.[2] Hy het vermoedelik twee vroue gehad, Nebet en Chenoet, na aanleiding van hul grafte naby sy grafkelder.[3]
Volgens Manetho het die 5de Dinastie met sy dood tot ’n einde gekom en het hy dus waarskynlik geen seuns gehad nie. In die Turynse Koningslys word hier ook ’n spasie ingevoeg, en volgens Jaromir Malek is dit gewoonlik gedoen wanneer daar ’n verskuiwing van die hoofstad en koninklike woning was.[4] Daar is egter wel tekens dat daar kontinuïteit was tussen die 5de en die 6de Dinastie: Kagemni, Djedkare en Oenas se raadgewer, het sy loopbaan onder Oenas se opvolger, Teti, voortgesit; Teti se koningin, Ipoet, was vermoedelik Oenas se dogter. Dit wys volgens Nicolas Grimal dat daar geen breuk tussen die dinastieë was nie.[5] Die breuk was waarskynlik bloot weens ’n amptelike skuif.