Die NG gemeente Vereeniging is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Sinode Goudland (voorheen Wes-Transvaal).
Die gemeente is gestig op 16 Maart 1912 en is die moeder van al die NG gemeentes in die stad Vereeniging asook die aanliggende Vanderbijlpark en Meyerton. Anders as op Vanderbijlpark, waar sewe gemeentes die naam van die dorp dra, byvoorbeeld NG gemeente Vanderbijlpark-Noord en -Tuine, was Vereeniging reeds teen 2010 al gemeente wat die stad se naam gedra het, nadat Vereeniging-Oos se naam verander het na Kerk tussen die Mielielande en Vereeniging-Suid by die moedergemeente ingelyf is. Vereeniging-Wes het reeds jare gelede De Deur geword.