Mansonbende
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Mansonbende (onder sy lede bekend as die Familie) was 'n kommune, bende en kultus wat deur die misdadiger Charles Manson gelei is. Hulle was in die laat 1960's en vroeë 1970's in Kalifornië, VSA, bedrywig.[1][2]
Die groep het uit sowat 100 volgelinge bestaan wat 'n onkonvensionele lewe gelei het met gewoontegebruik van hallusinogene soos LSD.[3] Die meeste lede was jong vroue uit die middelklas, van wie baie gelok is deur die hippiekultuur en kommuneleefstyl, en dan radikaal geword het weens Manson se leringe.[4]
Manson is in 1934 gebore en het teen die tyd dat hy in 1967 uit die tronk vrygelaat is, meer as die helfte van sy lewe in tronke of ander instellings deurgebring. Hy het volgelinge in die San Francisco-omgewing begin lok. Hulle het geleidelik by 'n vervalle ranch, die Spahn Ranch, in die Los Angeles-distrik ingetrek.[5] Die ranch is in September 1970 in 'n Kaliforniese veldbrand verwoes.
Volgens die bendelid Susan Atkins was die groep oortuig Manson was 'n manifestasie van Jesus Christus en het hulle geglo in sy voorspellings van 'n komende, apokaliptiese rasseoorlog.[6][7]
In 1969 het die bendelede Susan Atkins, Tex Watson en Patricia Krenwinkel die huis van die aktrise Sharon Tate binnegegaan en haar en vier ander vermoor. Linda Kasabian was ook teenwoordig, maar het nie deelgeneem nie. Lede van die Familie was ook verantwoordelik vir 'n paar ander moorde, aanvalle en diefstalle.