Makaronesië
'n Versameling van vier eilandgroepe in die Noord-Atlantiese Oseaan aan die kus van Europa en Afrika / From Wikipedia, the free encyclopedia
Makaronesië of Makaronesiese eilande (letterlik: "gelukkige" of "geseënde eilande"; afgelei van die Griekse woorde μάκαρ, mákar vir "gelukkig/geseënd" en νῆσος, nḗsos vir "eiland") is 'n biogeografiese streek, bestaande uit vier argipels van vulkaniese oorsprong wat in die Noord-Atlantiese Oseaan langs die weskuste van Afrika en Europa geleë is.[1] Elke argipel bestaan uit 'n aantal eilande, gevorm van ondersese berge op die oseaanbodem wat oor die oseaan se oppervlak uitsteek. Die Makaronesiese eilande is verdeel tussen drie lande: Portugal, Spanje en Kaap Verde.[2][3][4] Administratief val die eilande, wat tot Portugal en Spanje behoort, onder die Europese Unie; die eilandnasie Kaap Verde behoort tot die Afrika-unie. Geologies behoort Makaronesië tot die Afrikaplaat, insluitende die Asore wat op die ontmoetingspunt van die Eurasiese met die Amerikaanse plaat geleë is.[5][6]
Ten spyte van die lang afstande heers ooreenkomste tussen die eilande se fauna en flora. Volgens die Europese Unie vorm die drie Europese argipels (dit wil se sonder Kaap Verde) 'n omgewingsstreek bekend as die Makaronesiese streek van Europa.[7]