Lykroof
From Wikipedia, the free encyclopedia
Lykroof of lykdiefstal (Engels: body snatching) is die onwettige verwydering van lyke uit grafte en lykshuise. Dit verskil van grafroof, want laasgenoemde sluit nie die verwydering van die lyk in nie, maar behels eerder die roof van voorwerpe in die graf. Die term "lykroof" dui oor die algemeen op die verwydering en verkoop van lyke, veral vir disseksie of lesings oor anatomie aan mediese universiteite. Die term behels hoofsaaklik gevalle in Brittanje en Amerika in die 17de, 18de en 19de eeu, maar daar is ook lykroof in baie ander lande aangeteken. Die eerste aangetekende geval was in 1319 in Bologna, Italië.
Die mense wat in dié tyd lyke gesteel en verkoop het, was algemeen as "resurreksioniste" bekend. Resurreksioniste in Brittanje, wat dikwels in spanne gewerk en lyke uit vars grafte gesteel het, is gehuur om mediese instellings en praktisyns van vars kadawers te voorsien vir die doel van anatomiese studies.[1]