Krieketwêreldbeker 1979
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Krieketwêreldbeker 1979 (Engels: 1979 Cricket World Cup) is van 9 tot 23 Junie 1979 in Engeland beslis. Dit was die tweede krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) aangebied word en die tweede in Engeland. Dié land het voorheen die eerste Krieketwêreldbeker 1975 gehuisves.[3] Die Krieketwêreldbeker 1979 is deur die Britse finansiële en versekeringsmaatskappy Prudential plc geborg en staan dus amptelik bekend as die Prudentialbeker 1979.
Kenteken van die Krieketwêreldbeker 1979 | |
Datums | 9 Junie – 23 Junie |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketkonferensie (IKK) |
Krieketformaat | Internasionale eendagkrieket (EDI) |
Toernooiformaat | Groep- en uitklopfase |
Gashere | Engeland |
Kampioen | Wes-Indië (2de titel) |
Naaswenner | Engeland |
Deelnemers | 8 (23 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 15 |
Bywoning | 132 000 (8 800 per wedstryd) |
Meeste lopies | Gordon Greenidge (253)[1] |
Meeste paaltjies | Mike Hendrick (10)[2] |
← 1975 1983 → |
Die toernooi se formaat van 1975 het onveranderd gebly en agt nasionale krieketspanne het aan die Krieketwêreldbeker 1979 deelgeneem: Die destydse ses toetskrieketlande (Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan en Wes-Indië), saam met die twee kwalifiserende spanne van die IKK-trofee 1979 Kanada en Sri Lanka. Tydens die Krieketwêreldbeker 1979 is 15 wedstryde gespeel, waaronder twaalf tydens die groepfase en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in twee groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners het mekaar in die eindstryd ontmoet. Elke wedstryd het uit 60 boulbeurte per span bestaan en is in tradisionele wit klere en met rooi balle gespeel; almal is bedags gespeel en het dus vroeg in die oggend begin.[4]
Engeland, Nieu-Seeland, Pakistan en Wes-Indië het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Engeland het Nieu-Seeland en Wes-Indië het Pakistan geklop, voordat die verdedigende kampioen Wes-Indië die eindstryd op Lord’s in Londen teen die gasheer Engeland met 92 lopies gewen en sodoende sy tweede titel ingepalm het. Suid-Afrika kon nie aan die krieketwêreldbeker deelneem nie as gevolg van ’n sportboikot teen dié land weens sy voortgesette apartheidsbeleid. Kanada het vir die eerste keer aan ’n krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem, terwyl al die ander spanne vir ’n tweede keer verskyn het.