Krieketwêreldbeker 2003
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Krieketwêreldbeker 2003 (Engels: 2003 Cricket World Cup) is van 9 Februarie tot 23 Maart 2003 in Suid-Afrika, Zimbabwe en Kenia beslis. Dit was die agtste krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die eerste in Afrika. Ná die Rugbywêreldbeker 1995 was dit die tweede wêreldbekertoernooi in een van Suid-Afrika se gewildste sportsoorte; later het dié land ook die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010 aangebied. Beide Kenia en Zimbabwe het vir die eerste keer ’n wêreldbekertoernooi aangebied. Suid-Afrika sou vier jaar later ook die T20I-wêreldbeker 2007 en daarna die Kampioenetrofee 2009 aanbied, waarmee dit as die eerste land al drie vername kriekettoernooie gehuisves het.
Kenteken van die Krieketwêreldbeker 2003 | |
Datums | 9 Februarie – 23 Maart |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketraad (IKR) |
Krieketformaat | Internasionale eendagkrieket (EDI) |
Toernooiformaat | Groepfase, Super Ses en uitklopfase |
Gashere | Suid-Afrika Kenia Zimbabwe |
Kampioen | Australië (3de titel) |
Naaswenner | Indië |
Deelnemers | 14 (38 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 54 |
Bywoning | 626 845 (11 608 per wedstryd) |
Speler van die reeks | Sachin Tendulkar |
Meeste lopies | Sachin Tendulkar (673)[1] |
Meeste paaltjies | Chaminda Vaas (23)[2] |
← 1999 2007 → |
14 nasionale krieketspanne het aan die Krieketwêreldbeker 2003 deelgeneem: Die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe), saam met die vier beste spanne van die IKK-trofee 2001 (Kanada, Kenia, Namibië en Nederland). Tydens die Krieketwêreldbeker 2003 is 54 wedstryde gespeel, waaronder 42 tydens die groepfase, nege in die Super Ses, en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in twee groepe van sewe elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die drie beste spanne van elke groep het hierna vir die Super Ses gekwalifiseer, waarvandaan die vier beste spanne vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners mekaar in die eindstryd ontmoet het. Elke wedstryd het uit 50 boulbeurte per span bestaan.[3]
Die toernooi het talle ontwrigtings ondervind, soos die uitskakeling van Suid-Afrika, Pakistan, Wes-Indië en Engeland in die groepfase (Suid-Afrika het met slegs een lopie verloor nadat hulle die Duckworth-Lewis-metode verkeerd gelees het).[4][5] Engeland het die wedstryd teen Zimbabwe weens die politieke onrus in dié land verbeur, waardeur Zimbabwe eindelik vir die Super Ses gekwalifiseer het.[6] Net só het Nieu-Seeland sy wedstryd teen Kenia om sekuriteitsredes verbeur, waardeur Kenia as die enigste nietoetsspelende land tot dusver die halfeindrondte gehaal het.[7] Nog ’n skokgolf het twee dae ná die toernooi se begin gevolg, toe Shane Warne, destyds een van die spel se voorste draaiers, in skande huis toe gestuur is ná ’n positiewe toets vir ’n verbode middel.[8] Tydens die eerste wedstryd teen Namibië het beide die Zimbabwiese speler Andy Flower en die snelbouler Henry Olonga swart armbande in “rou oor die dood van demokrasie” in Zimbabwe gedra. Albei spelers is onmiddellik uit die span geskors en het oorsee om politieke asiel gevra. Hierdie openbare politieke protes het ’n aansienlike verleentheid met die medegashere veroorsaak en ook die spanharmonie ontwrig.[9][10]
Australië, Indië, Kenia en Sri Lanka het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Australië het Sri Lanka en Indië het Kenia geklop, voordat die verdedigende kampioen Australië die eindstryd op Wanderers in Johannesburg teen Indië met 125 lopies gewen en sodoende sy derde titel ingepalm het, die eerste land wat daarin geslaag het. Hulle het tydens die toernooi al hul elf wedstryde gewen. Namibië het vir die eerste keer aan ’n krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem.[11] Dit is tot dusver die enigste krieketwêreldbeker waaraan vier Afrikaspanne deelgeneem het.
Die Pakistanse speler Shoaib Akhtar het tydens die toernooi ’n wêreldrekord opgestel en die vinnigste bouler in die krieketgeskiedenis geword, toe hy in ’n groepwedstryd teen Engeland ’n aflewering met 161,3 km/h gestuur het.[12][13][14] Rudie van Vuuren, wat vir Namibië gespeel het, het later met dié land se nasionale rugbyspan ook aan die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië deelgeneem, waardeur hy die eerste sportlui geword het wat in dieselfde jaar in twee verskillende sportkodes aan wêreldbekertoernooie deelgeneem het.[15]