Ikea
From Wikipedia, the free encyclopedia
Ikea ([i'ke.a], handelsmerk: IKEA) is 'n internasionale maatskappy wat die meubelbedryf met sy bekostigbare en slaan-dit-self-aan-mekaar-meubels gerewolusioneer het. Die winkelketting, wat in Swede gestig is, is tans ook die grootste vervaardiger van meubels wêreldwyd met 118 000 medewerkers en 'n omset van 19,8 miljard € in 2007.
IKEA | |
Tipe | Privaat maatskappy met beperkte aanspreeklikheid |
---|---|
Gestig | 1943 |
Hoofkantoor | Leiden, Nederland |
Sleutelpersone | Jesper Brodin (voorsitter en hoof uitvoerende beampte van INGKA Holding), Torbjörn Lööf (voorsitter en hoof uitvoerende beampte van Inter IKEA Group) |
Gebied bedien | Europa, Asië, Noord-Amerika, Oseanië |
Industrie | Kleinhandel |
Produkte | Slaan-dit-self-aan-mekaar-meubels |
Inkomste | €28,506 miljard[1] (2013) |
Bedryfsinkomste | €4,011 miljard[1] (2013) |
Netto inkomste | €3,302 miljard[1] (2013) |
Werknemers | 149 000[2] |
Moedermaatskappy | Stichting INGKA Foundation |
Webwerf | ikea.com |
IKEA is in 1943 deur die 17-jarige Ingvar Kamprad gestig en tans in besit van 'n Nederlands-gebaseerde stigting wat deur die Kamprad-gesin oorheers word. IKEA is 'n akroniem wat uit die hoofletters van die stigter (Ingvar Kamprad), die plaas waar hy grootgeword het (Elmtaryd) en die nabygeleë dorpie Agunnaryd in Småland bestaan.
Die stigting INGKA Holding B.V. is die moedermaatskappy van alle ondernemings in die IKEA-groep, waaronder die nywerheidsgroep Swedwood (die vervaardiger van IKEA-meubels), die handelmaatskappye wat die IKEA-meubelwinkels beheer, die afdelings wat aankoopfunksies uitoefen, en IKEA of Sweden wat verantwoordelik is vir die ontwerp en ontwikkeling van produkte in die IKEA-reeks. INGKA Holding B.V. is in besit van die Stichting IKEA Foundation, 'n nie-winsbejagmaatskappy wat in die Nederlandse stad Leiden geregistreer is.
Inter IKEA Systems B.V. in Delft (Nederland) is die eienaar van die IKEA-konsep en -handelsmerk waarmee alle IKEA-meubelwinkels hul konsessieooreenkoms gesluit het. Die IKEA-groep is die grootste maatskappy onder konsessie van Inter IKEA Systems B.V.