Henry Every
From Wikipedia, the free encyclopedia
Henry Every (gebore 20 Augustus 1659 - 1699) was ’n Engelse seerower wat in die middel 1690's op die Atlantiese en Indiese Oseaan bedrywig was. Hy het waarskynlik verskeie skuilname soos Benjamin Bridgeman gebruik en was onder sy bemanning en bondgenoete bekend as Lang Ben.
Henry Every | ||
’n Houtsneewerk uit A General History of the Pyrates (1725). | ||
Soort | Seerower | |
Gebore | 20 Augustus 1659 Newton Ferrers, Devon, Engeland | |
Oorlede | Iewers in 1699 (op 40) Dalk Devon | |
Bynaam | Lang Ben Die Koning van Seerowers | |
Loopbaan | ||
Jare aktief | 1694-1696 | |
Rang | Kaptein | |
Gebied | Atlantiese Oseaan Seerowersroete Indiese Oseaan | |
Skepe | Fancy, voorheen Charles II |
Hy was ook bekend onder talle verkeerde spellings soos Henry Avery, Jack Avery of John Avery, soos dit in regeringsdokumente voorgekom het.[1][2][3][4] Die naam "John Avery" verskyn in die pamflet The Life and Adventures of Capt. John Avery uit 1709, maar dit is ’n fiktiewe werk. Daniel Defoe het dit later gebruik in sy boek uit 1720 The King of Pirates, en dit is daarna algemeen gebruik.[5]
Hy is deur sy tydgenote "Die Aartsseerower" en "Die Kaptein van Seerowers" gedoop en was berug daarvoor dat hy een van die min groot seerowerskapteins was wat met sy buit ontsnap het sonder dat hy gevang of doodgemaak is. Hy was ook bekend vir wat genoem is die winsgewendste seerowersdaad in die geskiedenis.[6] Hoewel sy loopbaan as seerower net twee jaar geduur het, het sy dade die publiek se verbeelding aangegryp, ander geïnspireer om ook seerowers te word en letterkundige werke tot gevolg gehad.