Hadeïkum
Eerste geologiese eon / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Hadeïkum of Hadeïese Eon is die eerste geologiese eon in die Aarde se bestaan. Dit het sowat 4,54 miljard jaar gelede begin met die vorming van die Aarde en sowat 4 miljard jaar gelede geëindig met die begin van die Argeïkum. Die naam kom van Hades, die antieke Griekse god van die onderwêreld na aanleiding van die hel-agtige toestande op die Aarde in dié tyd: die planeet het pas gevorm en was nog baie warm en wys dikwels vulkaniese uitbarstings, ’n gedeeltelik gesmelte oppervlak en gereelde botsings met ander liggame in die Sonnestelsel.
Eon | Era | Periode | Ouderdom Ga. |
---|---|---|---|
Argeïkum | Paleo-argeïkum | later | |
Hadeïkum | Neohadeïkum | Prometium | 4,0 - 3,9 |
Acastium | 4,1 - 4,0 | ||
Mesohadeïkum | Prokrustium | 4,2 - 4,1 | |
Kanadium | 4,3 - 4,2 | ||
Paleohadeïkum | Jakobium | 4,4 - 4,3 | |
Hefestium | 4,5 - 4,4 | ||
Chaotium | |||
Neochaotium | Titanomachium | ||
Hiperium | |||
Eochaotium | Erebrium | ||
Nefelium |
Langlewende radio-aktiewe oerisotope soos uraan-235 of kalium-40 was nog in groter konsentrasies aanwesig en het 4 keer meer hitte vrygestel as vandag. Hierdeur het gesteentes wat volop uraan, thorium (Th) of kalium bevat het nie kon stol nie en hulle het vloeibaar gebly. Die kors het veral basalte bevat wat arm aan hierdie elemente was. [1] Wat nou as uitgestorwe oerisotope beskou word soos 182Hafnium (Hf) het in die vroeë tyd nog 'n natuurlike voorkoms gehad en ook bygedra tot die radioaktiwiteit en die ontwikkeling van hitte wat dit veroorsaak. Omdat hulle dogternukliede ander chemiese eienskape besit -hulle behoort eerder tot 'n ander element- kan hulle later geskei raak. Dit lewer 'n tegniek wat byvoorbeeld die differensiasie van hemelliggame in 'n kern en 'n kors kan dateer.[2]
Ouer geskrifte verwys dikwels na dié eon bloot as die Pre-Argeïkum, maar in nuwer literatuur word die vroeë tyd van ons planeet en sy sonnestelsel in baie meer besonderhede beskrewe. Daar is weinig gesteentes wat uit die Hadeïkum dateer. Van die oudste gesteentes (die Acasta gneisskompleks van Kanada) strek van 4,2 tot 3,6 miljard jaar gelede. Dit word soms as die begin van die Argeïkum beskou, maar die denkbeelde is volop in ontwikkeling. Die skaarste van gesteentes maak van die Hadeïkum 'n tydperk wat moeilik is om te bestudeer. Die meeste inligting oor die Hadeïkum stam van die studie van elementverhoudings en isotoopverhoudings van gesteentes van die Aarde, die Maan en veral van meteoriete. [3]
Goldblatt et al verdeel die vroeë tyd in twee eons, die Chaotium en die eintlike Hadeïkum. Die eerste eon word in twee eras verdeel en die tweede in drie. Elke era word in twee periodes ingedeel. Hierdie artikel sal hulle indeling gebruik, hoewel geen eenstemmigheid hieroor bestaan nie.[4] Die kennis oor die vroeë geskiedenis van die sonnestelsel en die Aarde is vandag (2020) nog volop in ontwikkeling en die volgende tydlyn kan seker nog gewysig word.