Groot Pes van Londen
pandemie van 1665 tot 1666, laaste groot epidemie van die builepes wat in Engeland plaasgevind het / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Groot Pes was ’n epidemie waarin duisende mense tussen 1665 en 1666 in Londen gesterf het. Dit was die laaste groot builepes-epidemie in Engeland. Dit het gebeur in die eeue lange tydperk van die Tweede Pandemie, toe epidemies van builepes van tyd tot tyd uitgebreek het nadat dit in 1331 in China begin het. Dié jaar was die eerste jaar van die Swart Dood, ’n uitbraak wat tot in 1750 geduur en ander vorme soos die pneumoniese pes ingesluit het.[1]
Die Groot Pes het ’n geraamde 100 000 mense – byna ’n kwart van Londen se bevolking – se lewe in 18 maande geëis.[2][3] Dit is veroorsaak deur die bakterie Yersinia pestis,[4] wat gewoonlik oorgedra word deur die byt van ’n besmette rotvlooi.[5]
Die epidemie van 1665 tot '66 was op ’n veel kleiner skaal as die vroeëre Swart Dood-pandemie; dit is agterna as die "Groot Pes" onthou omdat dit die laaste wydverspreide uitbraak van builepes in Londen was tydens die 400 jaar lange tydperk van die Tweede Pandemie.[6][7]