FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1998
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die 16de FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Frans: Coupe du Monde – France 98; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 10 Junie tot 12 Julie 1998 in Frankryk aangebied. Dit was die tweede Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Frankryk aangebied is, ná die 1938-toernooi, en die negende in Europa. Frankryk het daarmee die derde land geword wat die toernooi vir ’n tweede keer gehuisves het, net ná Meksiko in 1986 en Italië in 1990.
Coupe du Monde – France 98 | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Frankryk |
Datums | 10 Junie – 12 Julie |
Spanne | 32 (van 5 konfederasies) |
Stadions | 10 (in 10 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Frankryk (1 titel) |
Tweede plek | Brasilië |
Derde plek | Kroasië |
Vierde plek | Nederland |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 64 |
Doele | 171 (2.67 per wedstryd) |
Bywoning | 2 785 100 (43 517 per wedstryd) |
Meeste punte | Davor Šuker (6 doele)[1] |
Beste speler | Ronaldo |
← 1994 2002 → |
32 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1998 deelgeneem. Die spanne is in agt groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep na die agtste eindrondte deurgedring het. Frankryk het die trofee gewen nadat hulle die verdedigende kampioen Brasilië met 3–0 in die eindstryd geklop en sodoende hul eerste wêreldbekertitel ingepalm het. Frankryk het die sewende nasie geword om ’n Wêreldbekertoernooi te wen en hulle was ook die sesde gasheer ná Uruguay in 1930, Italië in 1934, Engeland in 1966, Wes-Duitsland in 1974 en Argentinië in 1978 wat die toernooi gewen het. Met sy verowering van die wêreldbekertitel het Frankryk regstreeks vir die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2001 in Suid-Korea en Japan gekwalifiseer. Kroasië het in die derde en Nederland in die vierde plek geëindig. Dit was die eerste toernooi waartydens die goue doel-reël vir die beslissing van ’n wedstryd ingespan is, maar dié reël is reeds ná die volgende 2002-toernooi weer geskrap.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het vir die eerste keer aan die toernooi deelgeneem, maar hulle is reeds in die groepfase uitgeskakel. Die nasionale sokkerspanne van Jamaika, Japan en Kroasië het ook vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem. Dit was die eerste toernooi met die nuwe aantal van 32 nasionale sokkerspanne, wat verhoog is van die vorige 24 deelnemers tussen die Sokker-Wêreldbekertoernooie van 1982 tot 1994.