Clerkenwell
From Wikipedia, the free encyclopedia
Clerkenwell [ˈklɑrkənwɛl] is 'n buurt in Sentraal-Londen wat administratief onder die London Borough of Islington val. Clerkenwell behels twee historiese parogieë, St. James en St. John, en het tussen 1900 en 1965 deel uitgemaak van die Metropolitan Borough of Finsbury wat daarna met die aangrensende Islington saamgesmelt is om die nuwe Borough of Islington te vorm.
Clerkenwell | |
---|---|
Stadsbuurt | |
Clerkenwell Green en St James's Church | |
Koördinate: 51°31′34″N 0°06′13″W | |
Land | Verenigde Koninkryk |
Land | Engeland |
Graafskap | Groter Londen |
Borough | Islington |
Bevolking | |
• Totaal | 11 490 |
Tydsone | UTC±00:00 (MGT) |
• Somertyd | UTC+01:00 (BST) |
Poskode | EC1 |
Skakelkodes | 020 |
Die plaaslike ekonomie het vroeër - veral in die Georgiaanse tydperk - swaar op die horlosiebedryf en die herstel van horlosies gesteun.[1] Die naamgewende bron, wat van Clerkenwell in die 17de en 18de eeu 'n gewilde herstellingsoord gemaak het, is in 1924 in Farringdon Road herontdek. Na die suidwestelike gedeelte van Clerkenwell is vroeër as Little Italy verwys vanweë die groot aantal Italiaanse immigrante wat hulle hier tussen die 1850's en die 1960's gevestig het.
Die huidige buurt het baie van sy tradisies bewaar, waaronder die dorpsagtige karakter, en dien vandag met sy mengsel van residensiële geboue, werkswinkels, kroeë, restaurante en ander besighede as 'n woon- en sakekwartier vir die aangrensende City of London, die finansiële en sakesentrum van die Britse hoofstad.
Clerkenwell het tot een van die gunstelingbuurte vir Londense ontwerpers en ander jong professioneles ontwikkel, onder meer omdat werkplekke in die City of London van hier per voet bereik kan word, terwyl huurgelde en eiendomspryse die hoogte ingeskiet het.[2] Die buurt word gekenmerk deur 'n aantreklike mengsel van Georgiaanse, Victoriaanse en moderne argitektuur. Die kwartier se industriële boukuns is herontwikkel vir gebruik deur besighede uit die dienstesektor of as luukse eiendomme. Historiese stoorhuise is omgebou tot moderne kantore vir onder meer argitekte en advertensiemaatskappye en as redaksiekantore vir tydskrifte.[3]