Veer (voël)
From Wikipedia, the free encyclopedia
Vere vorm die bedekking van 'n voël se lyf. In Latyn word 'n veer penna (meervoud: pennae) genoem en omdat vere vroeër as skryfinstrumente gebruik is, praat 'n mens steeds van 'n "pen". 'n Ander woord vir veer is "pluim", wat van die Latynse pluma kom. Die tak van die wetenskap wat oor vere gaan, word "plumologie" genoem.
Vandag is vere net kenmerkend van voëls, maar daar is fossiele van dinosourusse wat reeds vere gehad het. Vere beskerm diere teen koue en water. Dit is dalk vere se oorspronklike funksie, maar hulle het dikwels kleure, wat die dier teen vyande beskerm of tot kommunikasie bydra. Aanwysings dat gekleurde vere reeds taamlik oud is, is gevind in die fossiele van Anchiornis. Die belangrikste funksie is nogtans dat dit aan 'n voël sy vliegvermoë verskaf. Archaeopteryx is die bekendste fossiel wat hierdie funksie vertoon.
Vere bestaan uit keratien en is leweloos in hul volwasse toestand. Hulle is ook uiters lig, hoewel 'n voël se veredos ongeveer twee maal so swaar is as sy skelet.