Suidelike en Noordelike Dinastieë
tydperk in die Sjinese geskiedenis / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Suidelike en Noordelike Dinastieë (Chinees: 南北朝, Nánběicháo) was ’n tydperk in die geskiedenis van China wat van 420 tot 589 geduur het. Dit word soms beskou as die laaste deel van ’n langer tydperk bekend as die Ses Dinastieë (220 tot 589).[1] Hoewel dit ’n era van burgeroorlog en politieke chaos was, het die kuns en kultuur floreer en was daar vooruitgang in tegnologie. In dié tyd was daar ’n groot migrasie van Han-Chinese na die streke suid van die Yangtzerivier.
Die proses van sinifikasie (’n aanname van die Han-Chinese kultuur) het ook toegeneem onder nie-Han-aankomelinge in die noorde en inboorlinge in die suide. Boeddhisme het in beide Noord- en Suid-China gewilder geword en Daoisme se invloed het ook vergroot. Van die gebiede waar groot ontwikkelings plaasgevind het, is medisyne, sterrekunde, wiskunde en kartografie.