Sigvermoë
From Wikipedia, the free encyclopedia
Met sigvermoë word bedoel die vermoë van mense en diere om lig waar te neem.
Laer diere, soos eensellige diere en erdwurms, reageer op verskille in ligintensiteit en donkerte met behulp van ligsensitiewe selle (fotoreseptors).
Die volgende stap in die ontwikkeling is die bewustheid van die rigting waaruit die lig kom. Dit is moontlik wanneer die ligsensitiewe selle deur pigmentselle gedeeltelik teen die invallende lig beskerm word. Ingewikkelder oë, soos die kameratipe oog van die Nautilus, die lensoog van onder meer werweldiere en die saamgestelde oog van geleedpotige diere, maak die waarneming van beweging en beelde moontlik.
Deur die klein oogopening van die kameratipe oog word 'n omgekeerde en swak beeld op die netvlies gevorm; die lensoog kan vanweë die feit dat die lens die ligstrale breek (straalbreking), ook by 'n groter ligopening (van die pupil) 'n skerp en helder beeld op die netvlies werp. Om 'n voorwerp op verskillende afstande skerp te sien, pas hierdie tipe oog hom daarby aan (deur akkommodasie).
Die waarneming van kleur berus op die vermoë om tussen verskillende golflengtes van lig te kan onderskei (binne 'n bepaalde golflengtegebied). Die keëlvormige reseptors in die netvlies is hiervoor verantwoordelik; die stafies reageer alleenlik op verskille in ligsterkte. By die mens en by diere wat 'n prooi vang, is die oë naby mekaar geleë sodat 'n voorwerp deur twee oë gelyktydig waargeneem word (vanuit 'n effens ander hoek). Mens en dier kan so diepte waarneem.