Rugbywêreldbeker 2023
tiende rugbywêreldbekertoernooi / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Rugbywêreldbeker 2023 (Frans: Coupe du monde de rugby à XV 2023) is van 8 September tot 28 Oktober 2023, die 200ste herdenking van rugby se “uitvinding” deur William Webb Ellis,[3][4] in Frankryk beslis.[5] Dit was die tiende rugbywêreldbekertoernooi van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur Wêreldrugby aangebied word en die sesde in die Noordelike Halfrond. Verder was dit ná die toernooie in 2015 (Engeland) en 2019 (Japan) die derde agtereenvolgende rugbywêreldbekertoernooi wat in ’n land van die Noordelike Halfrond aangebied is. Frankryk het voorheen tydens die Rugbywêreldbeker 1991 en Rugbywêreldbeker 1999 as medegasheer opgetree; albei toernooie is saam met die destydse Vyfnasies Engeland, Ierland, Skotland en Wallis aangebied; en later die Rugbywêreldbeker 2007 – met enkele wedstryde in Cardiff en Edinburg van die Verenigde Koninkryk – gehuisves; altesaam het Frankryk tydens vier rugbywêreldbekertoernooie as gasheer opgetree, meer as enige ander land. Dit was egter die eerste toernooi wat geheel en al in Frankryk aangebied is. In Julie 2017 is dié land deur Wêreldrugby as gasheer aangewys, ander kandidaatlande was Ierland en Suid-Afrika.
Rugbywêreldbeker 2023 | |
Toernooibesonderhede | |
---|---|
Gasheer | Frankryk |
Datums | 8 September – 28 Oktober |
Aantal nasies | 20 (34 kwalifiseer) |
Finale posisies | |
Kampioen | Suid-Afrika |
Naaswenner | Nieu-Seeland |
Derde plek | Engeland |
Toernooistatistiek | |
Wedstryde | 48 |
Bywoning | 2 437 208 (gem. 50 775 per wedstryd) |
Drieë | 325 (gemiddeld 6.77 per wedstryd) |
Meeste punte | Owen Farrell (75)[1] |
Meeste drieë | Will Jordan (8)[2] |
← 2019 |
2027 → |
Die toernooi se formaat van 2003, 2007, 2011, 2015 en 2019 het onveranderd gebly en 20 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 2023 deelgeneem: die twaalf regstreekse kwalifiseerders van die 2019-toernooi (Argentinië, Australië, Engeland, Fidji, Frankryk, Ierland, Italië, Japan, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis), saam met die agt beste spanne van die kwalifisering (Chili, Georgië, Namibië, Portugal, Roemenië, Samoa, Tonga en Uruguay). Chili het vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem, terwyl Kanada sy eerste toernooi misgeloop het. Daarmee was dit die eerste rugbywêreldbekertoernooi waaraan drie Suid-Amerikaanse spanne deelgeneem het en ná die 1999-toernooi die tweede met drie Spaanstalige lande. Nadat die Verenigde State in die uitspeelrondte ook uitgeskakel is, het vir die eerste keer geen Noord-Amerikaanse span deelgeneem nie.
Tydens die Rugbywêreldbeker 2023 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die toernooi het op 8 September met die openingswedstryd tussen die gasheer Frankryk en Nieu-Seeland op die Stade de France in Saint-Denis afgeskop. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna gekwalifiseer vir die uitklopfase, terwyl die drie beste spanne van elke groep – altesaam twaalf spanne – regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2027 in Australië gekwalifiseer het. Dit was die laaste toernooi met die aantal van 20 nasionale rugbyspanne; vir die volgende Rugbywêreldbeker 2027 in Australië is die aantal tot 24 verhoog.[6]
Voor die afskop van die Rugbywêreldbeker 2023 is Nieu-Seeland, Frankryk, Suid-Afrika en Ierland as gunstelinge op die titel beskou.[7] Beide Frankryk en Ierland kon hul groepwedstryde teen onderskeidelik Nieu-Seeland en Suid-Afrika wen, maar in die kwarteindrondte het albei Europese spanne naelskraap teen die twee latere finaliste verloor. Fidji het met hul 22–17-oorwinning oor die tweemalige wêreldkampioen Australië die eerste groot verrassing besorg. Nadat die Wallabies ook teen Wallis met 6–40 swaar verloor het, is hulle vir die eerste keer in die groepfase uitgeskakel. Daarna het Portugal met sy 24–23-oorwinning oor Fidji nog ’n verrassing besorg, hul eerste wêreldbekeroorwinning nog. Die verdedigende kampioen Suid-Afrika het die eindstryd op die Stade de France in Saint-Denis teen Nieu-Seeland met 12–11 gewen en sodoende die eerste span geword wat die Webb Ellis-beker vir ’n vierde keer ingepalm het en ná Nieu-Seeland in 2015 die tweede span wat dit kon verdedig.[8] Daarbenewens is dit ná 1995 hul tweede eindstrydoorwinning oor Nieu-Seeland, ná 2007 hul tweede eindstrydoorwinning op Franse bodem en hulle het ook die eerste span geword wat agtereenvolgende titels oorsee kon wen.[9] Die telling is behaal met vier strafskoppe deur Handré Pollard, teenoor ’n drie deur Nieu-Seeland se Beauden Barrett en twee strafdoele deur Richie Mo’unga. Die Stade de France het ná Edenpark in Auckland en Twickenham in Londen die derde rugbystadion geword wat die rugbywêreldbekereindwedstryd vir meer as een keer – ná die 2007-toernooi – gehuisves het. Engeland het in die derde en Argentinië in die vierde plek geëindig, nadat hulle ná die groepfase in die bronseindstryd vir ’n tweede keer ontmoet het. Namibië is ná vier nederlae reeds in die groepfase uitgeskakel.
Saam met die Olimpiese Somerspele 2024 in Parys was die Rugbywêreldbeker 2023 een van twee groot sportkompetisies in Frankryk binne een jaar; albei behoort tot die mees gesiene sportgeleenthede ter wêreld. Tydens die Olimpiese Somerspele 2024 word sewesrugbywedstryde gespeel, waarmee Frankryk twee van die rugbywêreld se belangrikste toernooie binne een jaar huisves.