Rugbywêreldbeker 2019
negende Rugbywêreldbeker / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Rugbywêreldbeker 2019 (Japannees: ラグビーワールドカップ2019) is van 20 September tot 2 November 2019 in Japan beslis. Dit was die negende rugbywêreldbeker van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur Wêreldrugby aangebied word en die vyfde in die Noordelike Halfrond. Dit was die eerste keer wat dié toernooi in Asië en buite die “tradisionele tuiste” van rugby aangebied is.[3] Al die vorige rugbywêreldbekertoernooie is afwisselend in lande van óf die destydse Drienasiesreeks (nou bekend as die Rugbykampioenskap, Suidelike Halfrond) of die destydse Vyfnasiestoernooi (nou bekend as die Sesnasies-toernooi, Noordelike Halfrond) gehou.
Rugbywêreldbeker 2019 | |
Toernooibesonderhede | |
---|---|
Gasheer | Japan |
Datums | 20 September – 2 November |
Aantal nasies | 20 (93 kwalifiseer) |
Finale posisies | |
Kampioen | Suid-Afrika |
Naaswenner | Engeland |
Derde plek | Nieu-Seeland |
Toernooistatistiek | |
Wedstryde | 48 |
Bywoning | 1 700 498 (gem. 35 427 per wedstryd) |
Drieë | 285 (gemiddeld 5.94 per wedstryd) |
Meeste punte | Handré Pollard (69)[1] |
Meeste drieë | Josh Adams (7)[2] |
← 2015 |
2023 → |
Die toernooi se formaat van 2003, 2007, 2011 en 2015 het onveranderd gebly en 20 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 2019 deelgeneem: die twaalf regstreekse kwalifiseerders van die 2015-toernooi (Argentinië, Australië, Engeland, Frankryk, Georgië, Ierland, Italië, Japan, Nieu-Seeland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis), saam met die agt beste spanne van die kwalifisering (Fidji, Kanada, Namibië, Rusland, Samoa, Tonga, Uruguay en die Verenigde State). Tydens die Rugbywêreldbeker 2019 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 40 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die toernooi het op 20 September tussen die gasheer Japan en Rusland op Chōfu, Tokio, se Ajinomoto-stadion afgeskop. Die spanne is in vier groepe van vyf elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer, terwyl die drie beste spanne van elke groep – altesaam twaalf spanne – regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 2023 in Frankryk gekwalifiseer het. Suid-Afrika het die eindstryd op Internasionale Stadion Jokohama teen Engeland met 32–12 gewen en sodoende sy derde wêreldtitel ná 1995 en 2007 ingepalm. Hiermee het Suid-Afrika Nieu-Seeland se vorige rekord van drie titels geëwenaar en word gelyktydig die suksesvolste span in die rugbywêreldbekergeskiedenis, nadat die Springbokke die eerste twee toernooie misgeloop het. Die telling, waarin twee drieë gedruk is, is behaal met ses strafskoppe deur Handré Pollard en die twee drieë deur Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe, teenoor slegs die vier strafdoele deur Engeland se Owen Farrell. Die verdedigende kampioen Nieu-Seeland het in die derde en Wallis in die vierde plek geëindig. Soos tydens die Rugbywêreldbeker 2015 was daar geen nuwe toetreders nie.
Voor die afskop van die Rugbywêreldbeker 2019 is Nieu-Seeland, Suid-Afrika en Engeland as gunstelinge op die titel beskou.[4] Die gasheer Japan se oorwinning oor Ierland – een van die groot gunstelinge voor dié toernooi – word as een van die grootste verrassings in die rugbygeskiedenis beskou, soos ook ná die Japannese oorwinning oor Suid-Afrika tydens die Rugbywêreldbeker 2015.[5] Enkele dae vroeër het Uruguay die eerste groot verrassing besorg toe hulle Fidji met 30–27 geklop het.[6] Die grootste skok was die uitskakeling van die mede-gunsteling Argentinië tydens die groepfase nadat hulle deur Engeland met 39–10 geklop is. Die gasheer Japan het hul 2015-sukses oortref en al vier teenstanders tydens die groepfase – Rusland, Ierland, Samoa en Skotland – verslaan. Japan het vervolgens as die eerste Asiatiese span nog tot die uitklopfase gevorder, hul beste prestasie in internasionale rugby tot dusver; die gasheer is egter deur die latere wêreldkampioen Suid-Afrika met 26–3 geklop.
Vir die eerste keer in die rugbywêreldbekertoernooi se geskiedenis moes wedstryde, eers dié tussen Nieu-Seeland en Italië asook tussen Engeland en Frankryk, weens die tifoon Hagibis afgelas word. Albei wedstryde is as ’n 0–0-gelykop geag en elke span het vervolgens twee bykomende tabelpunte gekry.[7][8][9][10] Later moes ook die groepwedstryd tussen Kanada en Namibië afgelas word, met dieselfde uitslag vir die tabel.[11]
Die Japannese Nasionale Stadion, wat herbou is vir die Olimpiese Somerspele 2020, was oorspronklik die kern van die Japannese bod vir die Rugbywêreldbeker 2019, maar as gevolg van hersienings aan die planne vir die Japannese Nasionale Stadion moes die stadions vir die Rugbywêreldbeker 2019 opnuut gereël word.[12] Die Internasionale Stadion Jokohama het vervolgens die nuwe hoofstadion geword en ook die eindstryd gehuisves; dié stadion is al tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2002 gebruik.
Saam met die Olimpiese Somerspele 2020 in Tokio was die Rugbywêreldbeker 2019 een van twee groot sportkompetisies in Japan binne twee jaar; albei behoort tot die mees gesiene sportgeleenthede ter wêreld. Tydens die Olimpiese Somerspele 2020 is sewesrugbywedstryde gehou, waarmee Japan twee van die rugbywêreld se belangrikste toernooie binne twee jaar gehuisves het. Die Olimpiese Somerspele 2020 is as gevolg van die wêreldwye Covid-19-pandemie deur die Internasionale Olimpiese Komitee en die Japannese reëlingskomitee egter vir een jaar uitgestel.[13][14]