Rugbywêreldbeker 1987
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Rugbywêreldbeker 1987 (Engels: 1987 Rugby World Cup; Maori: Ipu o te Ao Whutupōro 1987) is van 22 Mei tot 20 Junie 1987 in Australië en Nieu-Seeland beslis. Dit was die eerste rugbywêreldbeker van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) aangebied word.
Rugbywêreldbeker 1987 | |
Toernooibesonderhede | |
---|---|
Gasheer | Nieu-Seeland Australië |
Datums | 22 Mei – 20 Junie |
Aantal nasies | 16 |
Finale posisies | |
Kampioen | Nieu-Seeland |
Naaswenner | Frankryk |
Derde plek | Wallis |
Toernooistatistiek | |
Wedstryde | 32 |
Bywoning | 604 500 (gem. 18 891 per wedstryd) |
Drieë | 224 (gemiddeld 7 per wedstryd) |
Meeste punte | Grant Fox (126)[1] |
Meeste drieë | Craig Green John Kirwan (6 drieë elk)[2] |
← Geen |
1991 → |
16 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 1987 deelgeneem: Die destydse sewe lede van die IRVR (Australië, Engeland, Frankryk, Ierland, Nieu-Seeland, Skotland en Wallis), saam met die voorste nielede wat deur die IRVR genooi is (Argentinië, Fidji, Italië, Japan, Kanada, Roemenië, Tonga, die Verenigde State en Zimbabwe). Vir Wes-Samoa is ondanks ’n beter speelkwaliteit in vergelyking met sommige van die genooide nasionale rugbyspanne nie ’n uitnodiging gestuur nie. Die Sowjetunie is wel genooi om aan die toernooi deel te neem, maar hulle het weens Suid-Afrika se lidmaatskap by die IRVR dié aanbod verwerp.[3] Suid-Afrika kon nie aan die rugbywêreldbeker deelneem nie as gevolg van ’n sportboikot teen dié land weens sy voortgesette apartheidsbeleid.
Tydens die Rugbywêreldbeker 1987 is 32 wedstryde gespeel, waaronder 24 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer. Die spanne wat tot die kwarteindrondte gevorder het, het regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 1991 in die destydse Vyfnasies gekwalifiseer.
Nieu-Seeland het die eindstryd op Edenpark in Auckland teen Frankryk met 29–9 gewen en sodoende die eerste rugbywêreldkampioen geword.[4] Wallis het in die derde en Australië in die vierde plek geëindig; interessant genoeg het die vier groepwenners as die vier beste spanne van die toernooi geëindig. Die kwarteindstryd wat Frankryk teen Australië met 30–24 gewen het, word as een van die beste wedstryde in die rugbywêreldbekergeskiedenis beskou.[5]