Reïnkarnasie
From Wikipedia, the free encyclopedia
Reïnkarnasie is die godsdienstige of filosofiese begrip dat die siel of gees, ná ’n biologiese dood, ’n nuwe lewe in ’n nuwe liggaam kan begin. Dié leerstelling is ’n sentrale begrip in Hindoeïsme.[1] Dit is ook ’n algemene geloof in verskeie antieke en moderne godsdienste soos Spiritisme, Teosofie en Eckankar, en word aangetref in die geloof van baie stamme oor die wêreld heen op plekke soos Siberië, Wes-Afrika, Noord-Amerika en Australië.[2]
Hoewel die meeste gelowe, soos Judaïsme, die Christendom en Islam, nie glo dat individue gereïnkarneer word nie, glo spesifieke groepe binne dié godsdienste wel in reïnkarnasie, soos kabbala-aanhangers, Kathare, Droese[3] en die Orde van die Rosekruis.[4] Die historiese verwantskap tussen hierdie sektes en ander gelowe is die onderwerp van skolastiese navorsing.[5]
In onlangse dekades het baie mense in ander dele van die wêreld begin belangstel in die idee van reïnkarnasie.[6] Moderne rolprente, boeke en liedjies verwys dikwels daarna.