Popargitektuur
From Wikipedia, the free encyclopedia
Popargitektuur, ook mimetiese of programmatiese argitektuur genoem en in die Engelssprekende wêreld bekend as novelty architecture, is 'n stroming binne die moderne boukuns wat veral in die eerste helfte van die 20ste eeu in die Verenigde State gewild geraak het. Dit word gekenmerk deur ongewone ontwerpe wat die doelwit of funksie van 'n gebou, of die produk of diens waarmee dit verbind word, simboliseer of naboots.
In sy wyer betekenis verwys die term na enige fantastiese ontwerp vir 'n grootskaalse beeldhoukunswerk van argitektoniese dimensie, of na argitektoniese style waarin geboue in 'n metaforiese manier ontwerp en gebou word. Kommersiële boukuns vir kasino's en restaurante boots soms befaamde historiese geboue na - 'n styl wat onder meer in Las Vegas gewild geraak het.
Popargitektuur is onlosmaaklik verbonde met die tydperk van toenemende motorisering in die Verenigde State tussen die 1920's en 1950's en die grootskaalse uitbou van die nasionale padnetwerk. Geboue langs snelweë en grootpaaie is as argitektoniese advertensieboodskappe ontwerp om die aandag van motorbestuurders te kry. So is padrestaurante as reuseworsbroodjies, koffiewinkels as reusekoffiekanne en vrugtestalletjies as reusevrugte ontwerp.