Kiëf-Roes
From Wikipedia, the free encyclopedia
Kiëf-Roes (Russies: Киевская Русь, Kijefskaja Roes; Oekraïens: Київська Русь, Kijiwska Roes), of die Kiëfse Ryk, was van die laat 9de eeu tot die middel 13de eeu ’n losse federasie[3] van Oos-Slawiese en Finse volke in Europa[4] onder die heerskappy van die Rjoerik-dinastie. Dit was die eerste georganiseerde staat met 'n Oos-Slawies-Ortodokse identiteit en die staatkundige beginpunt van 'n lang historiese proses wat in die 20ste eeu uiteindelik op die stigting van drie onafhanklike state – Rusland, Belarus en Oekraïne – sou uitloop waarin Kiëf-Roes se kulturele en godsdienstige erfenis voortleef.[5]
| ||||
Kiëf-Roes omstreeks 1000 n.C. | ||||
Hoofstad | Kiëf (sedert 882) Weliki Nowgorod (tot 882) | |||
Taal/Tale | Oud-Oos-Slawies | |||
Godsdiens | Slawiese mitologie Oosters-Ortodoks | |||
Regering | Monargie | |||
Wetgewer | Wetsje, Raad van prinse | |||
Historiese tydperk | Middeleeue | |||
- Gevestig | 882 | |||
- Ontbind | 13de eeu | |||
Oppervlakte | ||||
- 1000[1] | 1 330 000 km2 513 516 sq mi | |||
Bevolking | ||||
- 1000[2] skatting | 5 400 000 | |||
Digtheid | 4,1 /km² 10,5 /sq mi | |||
Geldeenheid | Griwna |
Die dryfkrag agter die vorming van Kiëf-Roes was die handelsbelange van Wiking-avonturiers wat met hul gesofistikeerde bote Oos-Europa langs sy waterweë binnegedring het om hul handelsgoedere te ruil vir een produk waarvoor die Sweedse Wiking-beskawing 'n byna onversadigbare afsetmark was – silwer uit die Midde-Ooste, een van die vernaamste Wiking-statussimbole, soos weerspieël in ruim 90 000 muntstukke en ander waardevolle voorwerpe wat argeologiese opgrawings in Skandinawië opgelewer het. Om handelsroetes te beskerm, is handelsposte langs die kus en later, as versterkte nedersettings, in die binneland gestig.
Die tweede belangrike invloedfaktor, wat Kiëf-Roes se ontwikkeling sou bepaal, was sy uitgestrektheid en sy yl bevolking. Kiëf-Roes se beskawing het gefloreer in die wye driehoek wat deur die Karpate-bergreeks, die Peipus- en Ilmenmere en die monding van die Okarivier in die Wolga gevorm is – 'n gebied groter as Sentraal-Europa. Riviere het hier geen natuurlike grense gevorm nie, maar het maklike toegang verskaf vir diegene wat die bootsboukuns bemeester het om hulle te kan bevaar. Die mees bevolkte demografiese kerngebied van Kiëf-Roes het in die loop van die 12de eeu noordwaarts begin verskuif na die boloop van die Wolga, met Soezdal en Vladimir as belangrikste nedersettings.
Kiëf het sy goue tydperk beleef tydens die bewind van Wladimir die Grote (980-1015) en sy seun Jaroslaf die Wyse (1019–1054). In dié tyd was die ryk op sy grootste en het dit gestrek van die Oossee in die noorde tot die Swartsee in die suide, en van die boloop van die Vistularivier in die weste tot die Tamanskiereiland in die ooste.[6][7] Die meeste Oos-Slawiese stamme was onder die ryk verenig.[3]
Volgens die Russiese historiografie was prins Oleg (882-912) die eerste heerser wat die Oos-Slawiese grondgebiede begin verenig het in wat as Kiëf-Roes bekend geword het. Hy het sy heerskappy uitgebrei van Nowgorod af suid met die Dnjeperriviervallei langs om handel te beskerm teen Chasaarse invalle uit die ooste,[3] en hy het sy hoofstad na die strategieser Kiëf (Kijif) geskuif. Swjatoslaf I (oorlede 972) het die Kiëfse grondgebied die eerste keer in ’n groot mate uitgebrei nadat hy die Chasare verslaan het. Wladimir die Grote het die Christendom ingevoer nadat hy self gedoop is. Kiëf-Roes was op sy grootste onder Jaroslaf die Wyse. Sy seuns het kort ná sy dood die eerste geskrewe regskode, die Roesskaja Prawda, opgestel.[8]
Die staat het in die laat 11de eeu begin agteruitgaan en in die 12de eeu in verskeie mededingende streeksmagte verbrokkel.[9] Dit is verder deur ekonomiese faktore verswak, soos die einde van die ryk se handelsbande met die Bisantynse Ryk weens die agteruitgang van Konstantinopel,[10] en die gepaardgaande verswakking van handelsroetes deur die gebied. Terwyl silwermyne in die Midde-Ooste in dié tyd blykbaar uitgeput was, het die silwermynbou in die Sentraal-Duitse Harzbergreeks in die 12de en 13de eeu 'n bloeitydperk beleef en ook in Skandinawië se behoeftes begin voorsien. Kiëf-Roes is eindelik in die 1240's deur Mongoolse invallers verower.