Kerk van Sciëntologie
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Kerk van Sciëntologie (Engels: Church of Scientology) is tans die grootste organisasie wat die nuwe religieuse beweging Sciëntologie verteenwoordig. Die kerk is in 1954 in Los Angeles (VSA) gestig met L. Ron Hubbard as uitvoerende direkteur - 'n pos wat hy tot 1966 beklee het. Sedert sy stigting het die Kerk gegroei tot 'n uitgebreide beweging waarvan die beginsels teen 1997 reeds in 129 lande beoefen is, en wat volgens sy eie statistieke reeds 8 miljoen mense wêreldwyd bedien het.
Die Kerk van Sciëntologie se hoofdoel word saamgevat met die slagspreuk "Skoon Planeet" (Engels: Clear Planet). Dit beteken dat Sciëntoloë die Aarde wil verlos van alle "waansin, oorloë en misdaad" en met 'n "gesonde en vreedsame" beskawing wil vervang. Die Kerk raak nie betrokke by politiek nie ('n voorvereiste vir alle religieuse denominasies in die Verenigde State wat deur die Amerikaanse belastingdiens Internal Revenue Service as nie-winsgewende liggame erken en van belasting vrygestel is) en deel die standpunt dat Kerk en staat volledig van mekaar geskei moet wees - 'n beginsel wat in die Amerikaanse grondwet verskans is.
Met eiendomme ter waarde van enkele miljard VSA-$ in sy besit, is die Kerk van Sciëntologie 'n eersterangse rolspeler op die Amerikaanse en internasionale eiendomsmark. Die Kerk het 'n reputasie verdien as versamelaar en sorgvuldige restoureerder van historiese geboue[2], maar laat ook nuwe moderne komplekse oprig soos sy Dissemination and Distribution Printing Center in Commerce in die suidooste van Los Angeles County met 'n oppervlak van 185 000 vierkante voet, of dele van sy nuwe massiewe kampus by die hoek van Sunset en Catalina Boulevard in East Hollywood.[3]
Die koop en restourasie van prestigieuse geboue is deel van die Kerk van Sciëntologie se internasionale program om gemeentelede en belangstellendes in sogenaamde «ideale Kerke» te bedien. Ideale Kerkgeboue beskik oor 'n kapel vir kerkdienste, ruimtes waarin lede en belangstellendes Sciëntologie se religieuse geskrifte kan bestudeer asook openbare ruimtes vir gemeenskapsaktiwiteite en vergaderings. Die openbare ruimtes staan meestal oop vir aanhangers van ander gelowe of kulturele byeenkomste van plaaslike inwoners en groepe.