Joseph Lister
From Wikipedia, the free encyclopedia
Joseph Lister (5 April, 1827 – 10 Februarie, 1912) was 'n Engelse snydokter wat beroemdheid verwerf het omdat hy asepsie in die operasiekamer ingevoer het, en die ontdekking van veral sy stoomkarbolspuit was van groot belang.
Joseph Lister | |
---|---|
Joseph Lister in 1855 | |
Gebore | (1827-04-05)5 April 1827 West Ham, Engeland |
Sterf | 10 Februarie 1912 (op 84) Walmer, Kent, Engeland |
Nasionaliteit | Verenigde Koninkryk |
Alma mater | University College Londen |
Beroep | Snydokter |
Bekend vir | President van die Royal Society |
Termyn | 1895–1900 |
Voorganger | William Thomson |
Opvolger | William Huggins |
Eggenoot | Agnes Lister (née Syme) |
Handtekening | |
Daardeur het operasies baie veiliger geword en baie pasiënte wat andersins weens infeksies sou gesterf het, se lewens is gered. Hy het reeds in sy leeftyd vir sy werk erkenning ontvang, onder meer deur die toekenning van 'n baronskap.
In die vroeë vorige eeu was hospitaalsale oorvol, swak geventileer en onhigiënies. Medici was besorg oor die onrusbarende aantal mense wat aan infeksies, veral gangreen, gesterf het.
Gedurende hierdie tydperk is heelwat deurbrake op die gebied van die natuurwetenskap, veral die mediese wetenskap, gemaak. Louis Pasteur, chemikus van beroep, het byvoorbeeld bakterieë ontdek, terwyl Morton in die VSA swael-eter en Simpson in Edinburgh chloroform as narkosemiddels uitgevind het.
Die Engelse snydokter Joseph Lister het in dieselfde tyd geleef en gewerk. Hy het hom toegelê op die verbetering van die swak toestande in die hospitale en het heelwat eksperimente uitgevoer, wat onder andere tot die ontwerp van sy stoomkarbolspuit gelei het. Deur die gebruik daarvan het steriele operasietoestande moontlik geword.
Reeds voor Lister is antisepse al gebruik, hoewel dit in sy tyd eers algemeen aanvaar is. Die ou Grieke byvoorbeeld het wonde met wyn uitgespoel en weinig van hulle pasiënte het infeksies opgedoen. Alexander Gordon het reeds in 1795 siekekamers ontsmet en geëis dat dokters hulle hande moes was, terwyl Ignaz Semmelweis in 1844 deur middel van statistiese ontledings bewys het dat dokters self dikwels infeksies aan pasiënte oorgedra het.