Jet d'Eau
groot spuitfontein in Genève, Switserland / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Jet d'Eau (Franse uitspraak: [ʒɛ do], Water-Jet) is 'n groot spuitfontein in Genève, Switserland. Dit is een van die bekendste bakens van die stad, wat op die amptelike toerismewebwerf van die stad, en op die amptelike logo vir Genève se aanbieding van die 2006 UEFA kampioenskappe, verskyn. [1] Die fontein is in die Geneva-meer, waar dit by die Rhône-rivier aansluit. Dit is regdeur die stad en vanuit die lug sigbaar, selfs as daar oor Genève op 'n hoogte van 10 km gevlieg word.
Vyfhonderd liter water per sekonde word teen 'n hoogte van 140 meter straalvormig in die lug gespuit. Twee 550 kW pompe, wat by 2 400 V opereer, verbruik een megawatt elektrisiteit.[2][3] Die water verlaat die spuitkop van 10 sentimeter teen 'n spoed van 200 km/h. Op enige gegewe oomblik is daar ongeveer 7 000 liter water in die lug. Niksvermoedende besoekers aan die fontein - wat vanaf 'n steenhawehoof aan die linkerkant van die meer bereik kan word - is soms verras as hulle sopnat word wanneer die wind net effens van rigting verander.