Grietjie (kanon)
From Wikipedia, the free encyclopedia
Grietjie was een van die bekendste kanonne wat vanaf die Groot Trek (ongeveer 1835 tot 1854) tot met die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) diens gedoen het. Hierdie kanon is tans in die museum van die Voortrekkermonument in Pretoria te sien, op bruikleen van die Nasionale Kultuurhistoriese Museum in Pretoria.
Tydens die Groot Trek het die Voortrekkers se wapenrusting uit gewere, pistole en kanonne bestaan, maar die presiese aantal kanonne wat in die binneland gebruik is, is onbekend. Afgesien van die morele ondersteuning wat die aanwesigheid van kanonne tydens vyandelike aanvalle gebied het, het die gebruik daarvan (die sogenaamde drie- of sesponderkanonne) vir die Voortrekkers heelwat probleme veroorsaak. Ronde koeëls, die normale projektiele, het weinig teen groot getalle aanstormende vyand beteken en slegs goed opgeleide kanonniers kon skrapnel doeltreffend gebruik. Boonop het die kanonne na elke skoot 'n aansienlike ent terugbeweeg, wat tydelik 'n gevaarlike gaping in die laermuur veroorsaak het.
Verder het die kanonne groot hoeveelhede ammunisie gebruik – vir een skoot het 'n drieponderkanon 'n pond kruit benodig, terwyl sy ladingskroot twee pond en tien onse geweeg het. Dis te verstane dat so 'n groot hoeveelheid ammunisie meer doeltreffend in die Voortrekkers se roers gebruik kon word, veral omdat 'n kanon nie meer as twee of drie skote per minuut kon skiet nie.
Na raming dateer Grietjie uit ongeveer 1800. Die verhewe “F” op een skamel dui daarop dat dit 'n Engelse skeepskanon is. Grietjie word geklassifiseer as 'n vierponder “carronnade” met 'n lengte van 490 mm en het dus 'n 2,3 kg-koeël afgevuur.