FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2022
Wikimedia-kategorie / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die 22ste FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Arabies: كَأسُ اَلعَالَمِ 2022, Kaʾsu al-ʿālami 2022; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 20 November tot 18 Desember 2022 in Katar beslis. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi in die Midde-Ooste en die eerste in Asië sedert 2002 in Japan en Suid-Korea. Dit was ook die eerste groot sporttoernooi in Katar, die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi in die Arabiese wêreld en ’n land met ’n Islamitiese bevolkingsmeerderheid,[3] nadat Marokko al vyf keer vir dié toernooi aansoek gedoen het (in 1994, 1998, 2006, 2010 en 2026), asook Egipte, Libië en Tunisië vir 2010. Weens die groot somerhitte in Katar is in Maart 2015 daarop besluit om die toernooi op 20 November te laat begin en die eindstryd is op 18 Desember, Katar se nasionale dag, beslis.[4][5] Dit was die eerste keer wat ’n Sokker-Wêreldbeker aan die einde van die jaar aangebied is. Die toernooi het dus 29 dae geduur, minder as ’n maand en vier dae langer as die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1978.[6] Die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2021 sou as ’n voorbereiding vir die gasheerland gedien het, maar dié toernooi is deur FIFA geskrap.[7]
كَأسُ اَلعَالَمِ 2022 Kaʾsu al-ʿālami 2022 Qatar 2022 | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Katar |
Datums | 20 November – 18 Desember |
Spanne | 32 (van 5 konfederasies) |
Stadions | 8 (in 5 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Argentinië (3 titels) |
Tweede plek | Frankryk |
Derde plek | Kroasië |
Vierde plek | Marokko |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 64 |
Doele | 172 (2.69 per wedstryd) |
Bywoning | 3 404 252 (53 191 per wedstryd) |
Meeste punte | Kylian Mbappé (8)[1] |
Beste speler | Lionel Messi[2] |
← 2018 2026 → |
32 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2022 deelgeneem. Die spanne is in agt groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep na die agtste eindrondte deurgedring het. Argentinië het die trofee gewen nadat hulle die verdedigende kampioen Frankryk op 18 Desember in die Lusail Ikoniese Stadion geklop en sodoende hul derde wêreldbekertitel ingepalm het. Die eindtelling was Argentinië 3 – Frankryk 3, maar Argentinië het met 4–2 ná strafdoele gewen. Dit was die laaste toernooi met die aantal van 32 nasionale sokkerspanne; vir die volgende FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026 in Noord-Amerika sal die aantal tot 48 vermeerder word.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie vir die toernooi gekwalifiseer nie en het dus nie daaraan deelgeneem nie. Die nasionale sokkerspan van die gasheer Katar het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem. Die verdedigende kampioen was Frankryk, nadat hulle die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2018 gewen het.[8]