FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2006
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die 18de FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Duits: Fußball-Weltmeisterschaft 2006 – Deutschland 2006; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 9 Junie tot 9 Julie 2006 in Duitsland aangebied. Dit was die tweede Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Duitsland aangebied is, ná die 1974-toernooi, en die tiende in Europa. Duitsland het daarmee die vierde land geword wat die toernooi vir ’n tweede keer gehuisves het, net ná Meksiko in 1986, Italië in 1990 en Frankryk in 1998. Dié toernooi is onder die leuse Die Welt zu Gast bei Freunden (“Die wêreld as ’n gas by vriende”) gehuisves en weens die goeie somerweer en atmosfeer later Sommermärchen (“somersprokie”) genoem. Die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2005 het as ’n voorbereiding vir die gasheerland gedien.
FIFA Fußball-Weltmeisterschaft Deutschland 2006 | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Duitsland |
Datums | 9 Junie – 9 Julie |
Spanne | 32 (van 6 konfederasies) |
Stadions | 12 (in 12 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Italië (4 titels) |
Tweede plek | Frankryk |
Derde plek | Duitsland |
Vierde plek | Portugal |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 64 |
Doele | 147 (2.3 per wedstryd) |
Bywoning | 3 359 439 (52 491 per wedstryd) |
Meeste punte | Miroslav Klose (5 doele)[1] |
Beste speler | Zinedine Zidane |
← 2002 2010 → |
32 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2006 deelgeneem. Die spanne is in agt groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep na die agtste eindrondte deurgedring het. Italië het die toernooi gewen nadat hulle Frankryk in die eindstryd geklop en sodoende hul vierde wêreldbekertitel ingepalm het. Die eindtelling was Italië 1 – Frankryk 1, maar Italië het met 5–3 ná strafdoele gewen.[2] Met sy verowering van die wêreldbekertitel het Italië regstreeks vir die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2009 in Suid-Afrika gekwalifiseer. Die gasheer Duitsland het in die derde en Portugal in die vierde plek geëindig. Die verdedigende kampioen Brasilië is in die kwarteindrondte uitgeskakel.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie vir die toernooi gekwalifiseer nie en dus nie daaraan deelgeneem nie. Die nasionale sokkerspanne van Angola, Ghana, Ivoorkus, Oekraïne, Serwië en Montenegro, Togo, Trinidad en Tobago en Tsjeggië het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem. Oekraïne het vroeër deel uitgemaak van die Sowjetse nasionale sokkerspan, Serwië en Montenegro van die Joego-Slawiese en Tsjeggië van die Tsjeggo-Slowaakse s’n; al drie was van die suksesvolste mededingers tydens Sokker-Wêreldbekertoernooie.