FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2002
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die 17de FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Koreaans: 2002 FIFA 월드컵 한국/일본, 2002 FIFA Woldeu Keop Hanguk/Ilbon; Japannees: 2002 FIFAワールドカップ 韓国/日本, 2002 FIFA Waarudo Kappu Kankoku/Nippon; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 31 Mei tot 30 Junie in Korea en Japan aangebied. Dit was die eerste keer dat die toernooi in Asië en buite die Amerikas of Europa gehou is; asook die eerste keer wat dit deur twee lande gesamentlik georganiseer is. Die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2001 het as ’n voorbereiding vir die twee gasheerlande gedien.
2002 FIFA 월드컵 한국/일본 2002 FIFA Woldeu Keop Hanguk/Ilbon (ko) 2002 FIFAワールドカップ 韓国/日本 2002 FIFA Waarudo Kappu Kankoku/Nippon (ja) | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerlande | Korea Japan |
Datums | 31 Mei – 30 Junie |
Spanne | 32 (van 5 konfederasies) |
Stadions | 20 (in 20 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Brasilië (5 titels) |
Tweede plek | Duitsland |
Derde plek | Turkye |
Vierde plek | Suid-Korea |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 64 |
Doele | 161 (2.52 per wedstryd) |
Bywoning | 2 705 197 (42 269 per wedstryd) |
Meeste punte | Ronaldo (8 doele)[1] |
Beste speler | Oliver Kahn |
← 1998 2006 → |
32 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2002 deelgeneem. Die spanne is in agt groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep na die agtste eindrondte deurgedring het. Brasilië het die toernooi gewen nadat hulle Duitsland met 2–0 in die eindstryd geklop en sodoende hul vyfde wêreldbekertitel ingepalm het, ’n algehele rekord. Met sy verowering van die wêreldbekertitel het Brasilië regstreeks vir die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2003 in Frankryk en die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2005 in Duitsland gekwalifiseer. Buitendien het Brasilië ná Duitsland die tweede land geword wat vir die derde agtereenvolgende keer die eindstryd gehaal het, nadat hulle ook in die 1994- en 1998-eindstryde verskyn het. Die verrassend suksesvolle nasionale sokkerspanne van Turkye het in die derde en die medegasheer Suid-Korea in die vierde plek geëindig. Die ander medegasheer Japan is in die agtste eindrondte uitgeskakel.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het vir die toernooi gekwalifiseer, maar hulle is reeds in die groepfase uitgeskakel. Die nasionale sokkerspanne van Ecuador, Senegal, Slowenië en die Volksrepubliek China het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem. Dit was die laaste toernooi waartydens die goue doel-reël vir die beslissing van ’n wedstryd ingespan is, nadat dié reël vir die vorige 1998-toernooi ingevoer is; die verdedigende kampioen het ook die laaste keer regstreeks vir ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer. Die destydse wêreld- en Europese kampioen Frankryk kon nie een enkele doel aanteken nie en het in hul groep in die laaste plek geëindig.