FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1986
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die 13de FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Spaans: Copa Mundial de Fútbol – México ’86; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 31 Mei tot 29 Junie 1986 in Meksiko aangebied. Dit was die tweede Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Meksiko en Noord-Amerika gehou is, ná die 1970-toernooi. Meksiko het daarmee die eerste land geword wat die toernooi vir ’n tweede keer gehuisves het. Daarbenewens was dit die derde agtereenvolgende Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in ’n Spaanstalige land beslis is, ná die toernooie van 1978 in Argentinië en 1982 in Spanje.
Copa Mundial de Fútbol – México ’86 | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Meksiko |
Datums | 31 Mei – 29 Junie |
Spanne | 24 (van 5 konfederasies) |
Stadions | 12 (in 9 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Argentinië (2 titels) |
Tweede plek | Wes-Duitsland |
Derde plek | Frankryk |
Vierde plek | België |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 52 |
Doele | 132 (2.54 per wedstryd) |
Bywoning | 2 394 031 (46 039 per wedstryd) |
Meeste punte | Gary Lineker (6 doele)[1] |
Beste speler | Diego Maradona |
← 1982 1990 → |
24 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1986 deelgeneem. Die spanne is in ses groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep en die vier beste derde plek spanne na die agtste eindrondte deurgedring het. Argentinië het die trofee gewen nadat hulle Wes-Duitsland met 3–2 in die eindstryd geklop en sodoende hul tweede wêreldbekertitel ingepalm het. Diego Maradona is as die beste speler van die toernooi aangewys en hy word veral vir sy “hand van god” en “doel van die eeu” tydens die kwarteindrondte teen Engeland onthou; Maradona het altesaam vyf doele vir Argentinië aangeteken en ’n verdere vyf vir sy spanmaats voorberei.[2] Frankryk het in die derde en België in die vierde plek geëindig. Die verdedigende kampioen Italië is in die agtste eindrondte uitgeskakel, terwyl die gasheer Meksiko die kwarteindrondte gehaal het.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie aan die toernooi deelgeneem nie omdat hulle nie ’n lid van FIFA was nie. Die nasionale sokkerspanne van Denemarke, Irak en Kanada het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem. Die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1986 word ook vir die “Meksikaanse golf” (la ola, “die golf”) onthou wat deur ondersteuners tydens dié toernooi uitgevind is en in wêreldwye sokker gewild geraak het.