FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1982
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die twaalfde FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Spaans: Copa Mundial de Fútbol – España 82; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 13 Junie tot 11 Julie 1982 in Spanje aangebied. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Spanje aangebied is en die sewende in Europa.
Copa Mundial de Fútbol – España 82 | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Spanje |
Datums | 13 Junie – 11 Julie |
Spanne | 24 (van 6 konfederasies) |
Stadions | 17 (in 14 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Italië (3 titels) |
Tweede plek | Wes-Duitsland |
Derde plek | Pole |
Vierde plek | Frankryk |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 52 |
Doele | 146 (2.81 per wedstryd) |
Bywoning | 2 109 723 (40 572 per wedstryd) |
Meeste punte | Paolo Rossi (6 doele)[1] |
Beste speler | Paolo Rossi |
← 1978 1986 → |
24 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1982 deelgeneem. Die spanne is in ses groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep na die tweede rondte deurgedring het. Die boonste spanne van die vier groepe het die halfeindrondte beslis. Italië het die trofee gewen nadat hulle Wes-Duitsland met 3–1 in die eindstryd geklop en sodoende hul derde wêreldbekertitel ingepalm het. Pole het in die derde en Frankryk in die vierde plek geëindig. Tydens die halfeindstryd tussen Wes-Duitsland en Frankryk is vir die eerste keer strafskoppe ingespan om ’n wedstryd te beslis; Wes-Duitsland het met 5–4 strafskoppe gewen en sodoende die eindstryd bereik. Beide die verdedigende kampioen Argentinië en die gasheer Spanje is in die tweede rondte uitgeskakel.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie aan die toernooi deelgeneem nie omdat hulle nie ’n lid van FIFA was nie. Die nasionale sokkerspanne van Algerië, Honduras, Kameroen, Koeweit en Nieu-Seeland het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem. Dit was die eerste toernooi met die nuwe aantal van 24 nasionale sokkerspanne, wat verhoog is van die oorspronklike 16 deelnemers tussen die Sokker-Wêreldbekertoernooie van 1930 tot 1978.