FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1970
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die negende FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Spaans: Copa Mundial de Fútbol – México 70; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 31 Mei tot 21 Junie 1970 in Meksiko aangebied. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Meksiko aangebied is en die eerste in Noord-Amerika. Ná die Olimpiese Somerspele 1968 in Meksikostad was die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1970 die tweede groot sportkompetisie in Meksiko.
Copa Mundial de Fútbol – México 70 | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Meksiko |
Datums | 31 Mei – 21 Junie |
Spanne | 16 (van 5 konfederasies) |
Stadions | 5 (in 5 stede) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Brasilië (3 titels) |
Tweede plek | Italië |
Derde plek | Wes-Duitsland |
Vierde plek | Uruguay |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 32 |
Doele | 95 (2.97 per wedstryd) |
Bywoning | 1 604 065 (50 127 per wedstryd) |
Meeste punte | Gerd Müller (10 doele)[1] |
Beste speler | Pelé |
← 1966 1974 → |
16 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1970 deelgeneem. Die spanne is in vier groepe verdeel, waarvan die twee beste spanne van elke groep na die uitklopfase deurgedring het. Die tweemalige kampioen Brasilië het die trofee gewen nadat hulle Italië, ’n ander tweemalige kampioen, met 4–1 in die eindstryd geklop en sodoende hul derde wêreldbekertitel ingepalm het. Brasilië kon daarmee die Jules Rimet-trofee permanent behou en met die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1974 is ’n nuwe trofee bekend gestel. Wes-Duitsland het in die derde en Uruguay in die vierde plek geëindig. Beide die verdedigende kampioen Engeland en die gasheer Meksiko is in die kwarteindrondte uitgeskakel.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie aan die toernooi deelgeneem nie omdat hulle nie ’n lid van FIFA was nie. Die nasionale sokkerspanne van El Salvador, Israel en Marokko het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem.