FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1930
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die eerste FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi (Spaans: 1er Campeonato Mundial de Fútbol; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 13 tot 30 Julie 1930 in die Uruguaanse hoofstad Montevideo aangebied. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Uruguay en Suid-Amerika beslis is. Die toernooi is ter geleentheid van die eeufeesviering van Uruguay se eerste grondwet gehuisves en dit was die enigste Sokker-Wêreldbekertoernooi wat net in een stad gehuisves is. Elkeen van die 18 wedstryde is in een van drie sokkerstadions in Montevideo aangebied. Die volgende toernooi in Suid-Amerika is in 1950 in Brasilië beslis en ook deur Uruguay gewen.
1er Campeonato Mundial de Fútbol | |
---|---|
Toernooi-inligting | |
Gasheerland | Uruguay |
Stad | Montevideo |
Datums | 13 Julie – 30 Julie |
Spanne | 13 |
Stadions | 3 (in 1 stad) |
Finale uitslag | |
Kampioene | Uruguay (1 titel) |
Tweede plek | Argentinië |
Derde plek | Verenigde State |
Vierde plek | Joego-Slawië |
Toernooi-statistieke | |
Wedstryde gespeel | 18 |
Doele | 70 (3.89 per wedstryd) |
Bywoning | 590 549 (32 808 per wedstryd) |
Meeste punte | Guillermo Stábile (8 doele)[1] |
Beste speler | José Nasazzi |
1934 → |
13 nasionale sokkerspanne (sewe van Suid-Amerika, vier van Europa en twee van Noord-Amerika) het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1930 deelgeneem. As gevolg van die destydse moeilike reis na Suid-Amerika het net enkele Europese nasionale sokkerspanne verkies om aan dié toernooi deel te neem wat tydens die Groot Depressie plaasgevind het. Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie aan die toernooi deelgeneem nie omdat hulle nie ’n lid van FIFA was nie.
Die spanne is in vier groepe verdeel, waarvan die beste span van elke groep na die halfeindrondte deurgedring het. Argentinië, Joego-Slawië, Uruguay en die Verenigde State het hul onderskeidelike groepe gewen en na die halfeindrondte deurgedring. Uruguay het die trofee gewen nadat hulle Argentinië met 4–2 in die eindstryd geklop en sodoende hul eerste wêreldbekertitel ingepalm het. Die Verenigde State het in die derde en Joego-Slawië in die vierde plek geëindig; vir albei nasionale sokkerspanne is dit hul beste prestasie nog.