Christendom in Sirië
From Wikipedia, the free encyclopedia
Christene in Sirië maak sowat 10% van die bevolking uit.[1][2] Die land se grootste Christelike denominasie is die Grieks-Ortodokse Kerk van Antiogië en die Hele Ooste,[3][4] gevolg deur die Melkitiese Katolieke Kerk, een van die Oosters-Katolieke Kerke, wat ’n gemeenskaplike oorsprong met die Grieks-Ortodokse Kerk van Antiogië het,[5] en dan deur die Oriëntaal-Ortodokse Kerke soos die Siries-Ortodokse Kerk en die Armeens-Apostoliese Kerk. Daar is ook ’n minderheid Protestante asook lede van die Assiriese Kerk van die Ooste en Chaldeus-Katolieke Kerk. Die stad Aleppo het vermoedelik die grootste getal Christene in Sirië.[6]
In die laat tydperk van Ottomaanse heerskappy het ’n groot deel van Siriese Christene uit Sirië geëmigreer, veral ná die bloedige reeks voorvalle in 1840 waarin Christene spesifiek geteiken is, die slagting in 1860 en die Assiriese volksmoord. Volgens die Libanees-Amerikaanse historikus Philip Hitti het sowat 900 000 Siriërs tussen 1899 en 1919 in Amerika aangekom (meer as 90% van hulle Christene).[7] Die Siriërs waarna verwys is, is van die historiese Sirië of die Levant, wat insluit Sirië, Jordanië en Palestina. Siriese Christene is geneig om relatief ryk en opgevoed te wees.[8]