Brasília
hoofstad van Brasilië / From Wikipedia, the free encyclopedia
Brasília (die diakritiese teken word in Afrikaans dikwels weggelaat, dus ook Brasilia) is die hoofstad van Brasilië. Dit is in die Federale Distrik van Brasilië (Portugees: Distrito Federal do Brasil, amptelike afkorting: DF) geleë en strek oor 'n oppervlak van 472,12 vierkante kilometer. Die stadsgebied het sowat 200 000 inwoners (2005), terwyl die metropolitaanse gebied van Brasília met 'n oppervlak van 5 822 vierkante kilometer 'n bevolking van 2,3 miljoen het. Die stad word omring deur satellietstede.
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Brasilië |
Koördinate | 15°47′S 47°53′W |
Gestig op | 21 April 1960 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 5 760 vk km |
Hoogte bo seevlak | 1 050–1 200 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2017) | 3 039 444 |
- Bevolkingsdigtheid | 480,827/vk km |
- Metropolitaanse gebied | 4 291 577 |
Tydsone | UTC -3 (BRT) |
Burgemeester | Ibaneis Rocha (MDB) |
Amptelike Webwerf | brasilia.df.gov.br |
Die Federale Distrik lyk met sy uitgestrekte landbougebiede en 'n lae bevolkingsdigtheid eerder op 'n klein deelstaat. Met die oprigting van die kunsmatige hoofstad Brasília, wat op die sentrale plato van Brasilië lê en dieselfde afstand van die mees noordelike groot stad, Belém, en die mees suidelike, Porto Alegre, is, het die Brasiliaanse staatspresident Juscelino Kubitschek in die vyftigerjare van die 20ste eeu 'n ou droom verwesenlik. Talle Brasiliaanse visioenêre het die verskuiwing van die land se hoofstad na die yl bevolkte platolandskap van die binneland voorgestel as die gepaste metode om die Brasiliaanse samelewing, wat soos "krappe vasgeklou het aan 'n digbevolkte kuslyn", ingrypend te transformeer en dit te laat floreer in 'n paradys van oorvloed.[1]
Brasília, wat in April 1960 amptelik ingewy is, versinnebeeld die inbesitneming van die Brasiliaanse binneland en is tegelykertyd een van die mees ambisieuse argitektoniese projekte van die 20ste eeu. As 'n meesterwerk van modernistiese boukuns is aan Brasília as enigste stad, wat in die 20ste eeu nuut ontstaan het, in 1987 die status van Unesco-wêrelderfenisgebied verleen.[2]