Aus
From Wikipedia, the free encyclopedia
Aus is 'n klein nedersetting in die ǀǀKaras-streek in die suide van Namibië, sowat 125 km oos van Lüderitz en 230 km wes van Keetmanshoop, en op 'n hoogte van 1 485 m bo seespieël. Dit lê aan die spoorlyn en die B4 nasionale pad. Treine van Keetmanshoop af draai nou hier om nadat hulle vroeër tot op Lüderitz geloop het.
Aus | |
---|---|
Koördinate: 26°40′00″S 16°16′00″O | |
Land | Namibië |
Streek | ǀǀKaras |
Kiesafdeling | !Nami≠Nüs |
Hoogte | 1 485 m (4 872 ft) |
Skakelkodes | 63 |
Die dorpie se naam is van Khoi-oorsprong en beteken "groot slang". Dit is as 'n interneringskamp gebruik ná die Duitse oorgawe in 1915. Die gevangenes is eers in tente gehuisves, maar later is baksteenhuise vir hulle gebou. Die getal aangehoudenes het nagenoeg 1 500 bereik, maar in Mei 1919 is die kamp gesluit. 'n Gedenkteken is sedertdien op die perseel van die kamp opgerig en enkele van die huise herbou. Daar was vroeër sprake van 'n goudontdekking in die omgewing.
Hoewel dit 'n klein plekkie is, het dit 'n hotel, polisiekantoor, winkel en motorhawe. Vroeër jare was hier 'n laerskool vir blanke leerlinge en een vir swart leerlinge. Die dorpie is geleë in die Ausberge bo die vlaktes van die Namibwoestyn. Die klimaat is gewoonlik baie warm en droog, maar in die winter van 1963 het sneeu hier geval. Dit word dan ook beskou as die plek met die koudste winters in Namibië.
Die gebied wes van Aus is bekend om sy wildeperde wat in die woestyn hou. Hulle oorsprong is onseker, maar hulle tel sowat 150 tot 200 en het aangepas by die onherbergsame omgewing. Hulle urineer minder as mak perde en kan vyf dae lank sonder water klaarkom. Hulle suip gewoonlik by 'n watergat in die Garubpan waar 'n skerm opgerig is sodat toeriste die diere kan dophou sonder dat hulle gesteur word.
Die bevolking was in 1970 767 van wie 197 blankes was. Aus het in 1925 'n dorpsbestuur gekry en munisipale status in 1949.